PAUL Ferreira, wat sy sig op die ouderdom van agt jaar verloor het, het sy eerste gepubliseerde boek, Gewetensbaai se Siel, op verlede naweek se skrywerfees op Cradock bekendgestel.
Die boek word beskryf as ’n Christelike aksiedrama wat baie lekker lees. Ferreira moes op 8-jarige ouderdom sy ouerhuis by Patensie verlaat en het ver van sy mense na Worcester gegaan vir skoolopleiding. Ná skool het hy as skakelbordoperateur by die polisie gewerk.
“In 2012 het ek ernstig siek geword en op die randjie van die dood omge-draai. Dit was gedurende dié tyd dat my gedagtes baie gedwaal het en dat ek bewus geword het van ’n Hoër Hand,” het hy vertel. Hy voel die boek was ’n opdrag van die Here want hy het dit baie vinnig en maklik geskryf.
Lynette Nel, ook ’n swaksiende en afgetrede onderwyseres, het die boek vir hom taalkundig verwerk.
Gewetensbaai se Siel is een van agt boeke wat Ferreira al geskryf het, maar is die eerste een wat gepuliseer is.
Paul sê hy en sy suster, Susan Matthee – wat ook blind is – wil nou motiveringsprekers word om vir ander blindes aan te moedig dat blindheid nie die einde van die wêreld is nie. Hulle gaan ook geld vir bandopnames vir blindes ondersteun deur ondermeer waaghalsige toertjies soos deur op ’n olifant te ry, valskerm te spring, en vele meer doen.
Gewetensbaai se Siel is by Helen van der Watt – 0829261802 – op Cradock beskikbaar.




