DIE Hoërskool Cradock en hul oud-skoliere- en ondersteunersbond gaan in samewerking met BKB ’n unieke vetvee- en duiwe-veiling op Donderdag, 16 Mei by die dorp se skougronde aanbied.

Dit beloof om ’n interessante en vermaaklike dag te wees, aangesien daar ook 50 duiwe opgeveil gaan word. Daar sal ook verskeie uitstallers wees en die immergroen en skreeusnaakse Theuns van Schalkwyk gaan as seremoniemeester optree.

Die Hoërskool Cradock is een van die begunstigdes van die kommissie en is trots op hul verbintenis met BKB. Die verdere ont-wikkeling van die skool se sportgronde word danksy hierdie veiling ’n groot hupstoot gegee.

Inwoners kan hierdie projek ondersteun deur die veiling, wat reeds om 11:00 by die skougronde begin; of die aand wat ’n biefstuk-ete en duiwe-veiling by die NG Moederkerksaal insluit, by te woon.

Biefstukkaartjies teen R125 per persoon is by die Lockeroom beskikbaar.

Besondere dank gaan aan die Cradock-skoukomitee, Benzing Gemeenskapsduiwehokke en BKB.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article