Biosekuriteit en uitvoere: Rooivleisbedryf opgewonde oor begrotingsrede


DIE Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het met dank kennis geneem oor die feit dat R495.10 miljoen toegeken is aan die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling om biosekuriteit en uitvoere te bevorder.

“Die uitbreking van bek-en-klouseer verlede jaar was ‘n groot terugslag vir die bedryf en het veral uitvoere negatief beïnvloed”, sê Koos van der Ryst, Voorsitter van die nasionale RPO.

“Die toekenning van hierdie bedrag om bio- sekuriteit en uitvoere te bevorder sal ’n wesenlike bydrae lewer om vertroue by ons handelsvennote te skep en uitvoere te bevorder in die tyd wat Suid-Afrika sy bek-en-klouseer vrye sone status verloor het.

“Ons vertrou dat ’n wesenlike gedeelte van die begroting aangewend sal word vir bek-en-klouseer beheer. Ons het van die hoogste kwaliteit rooivleis in die wêreld en ons produsentepryse is 30% onder die internasionale norm. Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf is internasionaal kompeterend en uitvoere bevoordeel al die rolspelers in die waardeketting.”

Die bedryf werk tans hard om ’n naspeurbaarheidstelsel te implementeer om vertroue in produkte en by handelsvennote skep.

“Die RPO neem ook kennis van die R40 miljoen wat geoormerk is in die begroting vir die volgende dire jaar om ’n identifikasiestelsel te implementeer wat die weg baan vir naspeurbaarheid,” sê Van der Ryst.

Dit sal ’n spanpoging wees tussen die bedryf en die Departement. Die RPO is ook opgewonde oor die feit dat R130 miljoen begroot is vir inspeksie- en laboratoriumdienste wat plaaslik en internasionale monitering sal verseker.

Daar is ook R45 miljoen oor die medium termyn geallokeer vir die implementering van mikrobiese en anti-mikrobiese monitering en patagene residu programme.

Die allokering van R1.2 miljard aan die Landbank vir finansiering van opkomende boere met die doel om 450 swart boere jaarliks te vestig is goeie nuus aangesien die bedryf 40% getransformeer is en ontwikkelende rooivleisprodusente groot potensiaal het om produksie te verhoog.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article