VERSKRIKLIK baie min, indien enige, van vandag se laaities weet wat bies is. Ons lewe mos reeds lankal in die era van melkskommels wat uit massiewe glase in restaurante deur dik strooi- tjies opgeslurp word. In ’n magdom geure, smake en kleure.
Sou jy enige van vandag se outjies oor bies uitvra, sal hulle jou seer sekerlik oopmond aanstaar met nie die vaagste benul oor wat ter sprake is nie.
Bies was ’n salige suiwellekkerte uit my kinderdae. Net die gedagte daaraan laat my smaakkliere sommer weer oortyd werk. En nou is dit nie dat bies nie meer bestaan nie; dis net dat vandag se kinders gans té kieskeurig of lekkerbekkig is om ooit hul monde daaraan te waag.
As kind het ek my magie male sonder tal boep aan bies geëet of gedrink. Met komplimente uit Bontrok se spene nadat sy aan ’n springlewendige kalfie geboorte geskenk het.
Op ’n werf aangrensend aan die gehuggie waarin ons destyds gebly het, het ’n Joodse paartjie ’n paar beeste aangehou. Wanneer die koeie begin kalf het buurvrou op ’n gereelde grondslag vir Ouma ’n emmertjie bies oor die grensdraad aangegee. Om dankie te sê vir die herwinningswerk wat Ouma in die kampie gedoen het.
Klokslag het sy by die klein hekkie ingegaan om vars beesmis vir ons huisie se vloere byme- kaar te maak. Dan het sy sommer al wat droë miskoek was oor die draad op ons erf gegooi om buite mee vuur te maak.
Ek sien vandag nog daardie goudgeel roomlaag bo teen die biesemmertjie se rant. Grootoog sou ek vir Ouma dophou wanneer sy dit sorgvuldig in ’n kastrol oorgooi en met Job se geduld voor die stoof staan terwyl sy dit met ’n houtlepel roer.
Dan het die verkwikkende geur daarvan deur die klein kombuisie getrek en in my neusgate kom vassit.
Bies moes nooit toegelaat word om aan te brand nie, anders sou die koei speenprobleme ontwikkel. Of altans, so het die oumense geglo.
’n Koei se eerste bies was dik en lekker klonterig. Dan moes mens dit met ’n lepel eet. Omdat Ouma geweet het hoe versot ek daarop was, het sy altyd vir my eerste uitgeskep. Maar sy het dit eers vir ’n tyd lank laat afkoel omdat ek by geleentheid uit blote gulsigheid my mondjie byna lelik verbrand het.
Bies het bý die dag al hoe dunner en minder krummelrig geword en dan kon jy dit uit ’n koppie of beker drink. Later het dit in gewone melk oorslaan. Die laaste bies het Ouma gewoonlik met krummelpap in die eg verbind en was netso smaaklik.
Ek glo vandag nog dat bies een of ander medisinale waarde tot my kinderlewe gevoeg het. Want vele van my tyd se kindersiektes het soos ’n lydingsbeker by my verby gegaan. Dis ook geen wonder dat ek in my kinderdae so gebokspring het nie. Behoorlik nes die jong ondeunde kalfies van my tyd.
Dis so jammer my kleinseun groei myle ver, doer in die Wes- Kaapse beskawing op. Oupa sou hom graag ’n proeseltjie of twee bies wou ingee.
Net om hom voor te stel aan die heilsame smake uit Oups se kinderdae en hom te staal vir die kindersiektes wat nog op sý pad voorlê.



