’n INXUBA Yethemba munisipale raadsvergadering wat verlede Donderdagoggend op Cradock sou plaasvind, moes inderhaas na Middelburg verskuif word toe ’n groep van ongeveer vyftig betogers die raadsaal binne gestorm en die vergadering ontwrig het.

Volgens Xolela Msweli, munisipale bestuurder van IYM, was die betogers werkers in diens van Chris Hani Distriksmunisipaliteit (CHDM) wat paaie in die omgewing namens die Departement van Transport moet onderhou.

“Ons het regtig niks met hulle te doen nie, maar hulle het ons geteiken omdat ons namens hulle, as inwoners van Cradock, met CHDM oor sekere sake onderhandel het,” het hy gesê.

Nádat die vergadering na Middelburg verskuif is, het die betogers Hospitaalstraat, aan die uitgang van die dorp, met klippe en gemors bestrooi. Hulle het ook op die pad na Tarkastad betoog en die pad probeer versper met klippe en brandende bande.

Die plaaslike polisie het baie vinnig opgetree en hulle is sonder voorval uiteengejaag.

Verkeer was slegs vir ’n kort tydjie onderbreek.

Stadsraadslede was Maandag, toe maatskaplike pensioene uitbetaal is, by banke en ander betaalpunte ontplooi om te verseker al die pensionarisse behou ’n afstand van een meter van mekaar.

’n Dringende raadsvergadering om die finale voorlopige begroting te bespreek, is Dinsdag, ook weer in Middelburg, gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article