Basie (50) en Katie (48) Stuurman van Eluxolweni het die prys vir die beste droogtetuin ontvang.Foto: TERESA OPPERMAN


AANGESIEN al die woonbuurte op Hofmeyr gereeld gebuk gaan onder ’n watertekort, het Hofmeyr Hugs of Hope ’n prys uitgeloof vir die mooiste droogtetuin.

Talle tuiniers wat met vindingrykheid hulle tuine aangepas het om die droogte- toestande te oorleef, het ingeskryf.

Die wentuin behoort aan Basie (50) en Katie (48) Stuurman van Eluxolweni. Hulle het begin Februarie in hul nuwe huis ingetrek en Basie het sommer dadelik begin met beplanning vir hulle nuwe tuin.

Einde Februarie het swaar reën veroorsaak dat water vanaf die nuwe teerpad, wat voor hulle huis verbyloop, Basie se nuwe tuin verspoel.

“Dit het my nie gestuit nie. Alhoewel die huis my vrou s’n is, is hierdie tuin myne en ek het van voor af begin om dit reg te kry,” sê Basie.

Die eerste wat besoekers aan Basie se tuintjie opmerk, is die droë boomstomp wat met emalje- en keramiek-koffiebekers behang is.

In elkeen van dié bekers is ’n paar saadjies geplant. Elke moontlike houer word in hierdie tuin gebruik om iets in te plant.

Basie het aanvanklik water in ’n ou gieter aangedra. Later het hy ’n kraan aan ’n waterpyp aangebring en ’n groot sinkbad langsaan neergesit.

“Wanneer daar dus wel water is, maak ek die sinkbad vol. Dan kan Katie ons wasgoed daarin was en daarna word die water gebruik vir my tuin.”

Die nuutste toevoeging tot Basie se tuin is ’n windmeul wat hy gemaak het uit leë plastiese twee liter koeldrankbottels.

Wanneer die wind waai, wrrrrr hierdie windmeul dat dit klink of daar binnekort ’n vliegtuig gaan land.

Hugs of Hope wens dat iemand vir hom ’n plan kan kom gee om die energie wat hierdie windmeul opwek, te benut om water tot by sy groentetuin te bring.

Bo in die enigste boom op die erf, is daar ’n gloeilampie. Snags is Basie se tuin die enigste tuin in Eluxolweni wat verlig is.

“Al probleem met dié lig wat heelnag op my tuin skyn, is dat my buurman se bantam-hoenderhaantjie nou heelnag kraai. En dan kekkel sy hennetjies agterna.”

Oor die gekraai en kekkel staan Basie dan maar so 04:00 op om in sy tuin van rus en vrede te begin werk.

“Katie staan so 05:00 op om ons vyf kleinkinders reg te kry vir skool.”

Hugs of Hope het aan die egpaar winter-groentesaad, vyf vrugteboompies en ’n aantal droogtebestande struike oorhandig.

’n Aantal tuinbou-tydskrifte was ook deel van die geskenk, asook leë potplanthouers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article