Jason Meaton, bekende bergfietsryer en vorige wenner van die uitdaging, het spesiaal vir ’n paar dae by Bamboes kom vertoef om die roetes vir hierdie jaar te beplan. Foto:SANET COETZER

DIE Hofmeyr-gemeenskap is druk besig om die 2019 Bamboesnaweek met alle sportuitdagings te beplan.

Die buitelug-geselligheid word aangebied op 31 Augustus en gaste word genooi om saam te kuier tot 1 September.

Vanjaar word bergfietsritte, veldroetestap of -draf, ’n XCo-kinderfietsryroete, springkasteel en waterwurm vir die dag beplan.

Aanlyninskrywings is reeds oop. ’n Gelukkige prys is op die spel vir inskrywings wat voor 28 Augustus op die webwerf gedoen word. Dié prys is ’n BLS Velodrome sak ter waarde van R2 500.

Bergfietsroetes van 70km en 35km, met ’n gemiddelde moeilikheidsgraad word Saterdag aangebied. Sondagoggend kan fietsryers ’n 20km roete aanpak.

Die afstande vir die veldstap- of draf op Saterdag is 21km of 12km met 12km of 5km pretdraf op Sondag.

Daar sal waterpunte wees en ’n mediese span sal op bystand wees.

Stalletjie-eienaars uit die gemeenskap beloof om hul produkte tydens dié dag onder die bome uit te stal. Eetgoed, soetgoed, koeldranke, padstalprodukte en vele ander items sal te koop aangebied word.

’n Waterwurm, springkasteel, slym vir kleingoed, klei- en inkleurstalletjie gaan opgestel word om die kleinspan besig te hou op die grasperke om die gastehuis.

’n Potjiekoskompetisie word Saterdag, 31 Augustus vanaf 15:00 aangebied en spanne bestaande uit vier lede word genooi om deel te neem.

Hofmeyr Hugs of Hope word vanjaar uitgesonder as die begunstigde nie-winsgewende organisasie wat ’n bydrae vanaf die Bamboes Bergfietsklub sal ontvang.

Vir meer inligting en registrasievorms besoek www.bamboesbergmtb.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article