Die span besige breiers (agter van links) Joe Erasmus, Marietjie Vorster en Martha van Tonder. Voor is Mabel Arendt, Marie Meyer, Nanna van Wyk en Hettie van der Merwe. Foto: ELSABé PIENAAR


DIE duiwel sal ver soek om ’n oorkussing by Huis Karee op Middelburg te kry, want ledig is dié inwoners beslis nie.


Komani-Karoo Express
het verlede week by die tehuis vir bejaardes gaan inloer om te kyk waarmee hou hulle hul só besig.

Selfs die 85-jarige Nanna van Wyk waag haar hand nog steeds aan breiwerk.

Nie eens die feit dat sy vanweë tonnel- visie blind in haar een oog is en slegs 5% sig in die ander oog het, stop haar om te brei nie.

Nanna het onlangs ’n pragtige kombers gebrei wat sy aan haar dogter, Marietjie Vorster, as verjaardaggeskenk gegee het.

“Dit het so drie maande gevat om te brei,” vertel Nanna.

“Maar ek het dit nie alleen gedoen nie, hoor. Ek het ’n hele klomp medebreiers gehad wat gehelp het as ek verbrou het.”

Martha van Tonder, ’n Middelburger wat soms nagdiens doen by Huis Karee, het vir Nanna die kombersblokke aanmekaar gewerk en die kombers met ’n kunstige randjie omgehekel.

Nanna het verseg om met die kombers afgeneem te word sonder haar vriendinne wat gehelp het.

Sy het Marietjie se verjaardagkombers met Charity (’n dubbeldraad breigare) gebrei, terwyl Mabel Arendt pas ’n asem- rowende pienk kombers met ’n ingewikkelde blaarpatroon gebrei het.

“Ek verkies om met dun wol te brei,” sê Mabel, wat ook pragtige doilies van net met kantrandjies en kralewerk afrond.

Benewens die breiwerk waarmee sy haar besig hou, is Nanna boonop ’n ywerige bakster.

Haar gewilde beskuit, wat sy Donderdae bak, word ten bate van Huis Karee ver-koop en kan by Karroo Apteek op Middelburg by 049 842 1118 bestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article