< Liesl Pretorius en Marike Greyling het Cradock se naam hoog gehou toe hulle eerste en tweede plek in die 45km-afdeling in die GVK Swaershoek-bergfietsuitdaging behaal het. Laura van Durme het in die derde plek geëndig. Olivia Moolman, voorsitter van die bergfietsuitdaging, staan heel regs. Foto:WILNA DE KLERK


DIT was ’n koue Karoo herfsoggend toe 94 deelnemers aan vanjaar se GWK Swaers-hoek-bergfietsuitdaging verlede Sondag van die Cradock-gholfklub weggespring het.

Dié bergfietsgeleentheid word in drie afdelings – oor 20km, 45km en 80km – beslis.

Alhoewel die 20km-afstand tegnies is, het dit nie beginner-deelnemers afgeskrik nie. In die 45km het die deelnemers kennis gemaak met Karoo-grondpaaie, twee- en enkelspoorpaadjies wat tegniese vaardigheid vereis en stroomkruisings en klipperige gedeeltes insluit.

Hierdie seksies is relatief plat en geskik vir deelnemers wat nie kans gesien het om Swaershoekpas uit te trap nie.

Deelnemers oor 80km maak kennis met ’n groot uitdaging wat ’n geweldige steil helling insluit en trappers klim 1 400m voor hulle die bokant bereik.

“Die uitsig van bo maak alles die moeite werd,” het Philp de Wet, een van die vasbyters, Sondagmiddag gesê.

Plaaslike ryers asook deelnemers van so ver as Kaapstad, Kimberley, Jeffreysbaai, Port Elizabeth en Pretoria het die uitdaging meegemaak.

Die oudste fietsryer was Johnny de Lange (71) en die jongste was Gordon King (14) en hulle het albei die 45km-afdeling suksesvol voltooi.

Donasies is ná afloop van die geleentheid aan die plaaslike diereskuiling en Tafelronde gegee. Emma van Gent het ’n skootrekenaar met ’n gelukkige trekking gewen.

Uitslae:

20km vroue:
Mariete Nel, Shevaughn Botes, Imke de Lange.

20km mans:
Pieter Myburg, Jack Adam, Schae Cawood

45km vroue:
Liesl Pretorius, Marike Greyling, Laura van Durme.

45km mans:
Shana Baillie, Bruce King, Ruaan Geldenhuys

80km vroue:
Katie Gilfillan, Nadine Breytenbach, Annelize Marais.

80km mans:
Jason Meaton, Christo Botha, Pieta Grobler

Neil Bissiker van Algoa FM het as seremoniemeester opgetree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article