’n BEKENDE Cradocker, wat die afgelope 83 jaar al in die dorp woon, verlaat Cradock aan die einde van hierdie maand om haar in Adelaide te gaan vestig.
Joey van Heerden is ’n oud-skolier van die destydse Rocklands Meisieskool en die Middellandse Handelskool. Dit was egter as werknemer van Cradock-munisipaliteit, waar sy vir 37 jaar werksaam was, en by Cradock Kankersorg, waar sy stigterslid en vir 35 jaar lank sekretaresse en baie aktiewe lid was, waar sy haar merk gemaak het.
Hierdie nog aktiewe vrou vertel graag van haar jare diens by die munisipaliteit, waar die eerste vyf jaar in die gesondheidsdepartement was, waar hulle onder meer met ’n polio-uitbraak op die dorp te doen gekry het.
“Die ergste ondervinding was egter toe gesondheidsinspekteurs op ’n dooie liggaam afgekom het wat onder die bed versteek was,” het sy vertel. Ondersoek het aan die lig gebring dat die persoon aan tifuskoors gesterf het, waarna die owerhede op die dorp toegesak het en elke gebou in daardie gebied met gifstof bespuit het,” het sy vertel.
Ná vyf jaar is sy na die stadsklerk se afdeling bevorder en het sy hoogtepunte soos die besoek van die destydse staatspresident, Blackie Swart, in 1964 toe die dorp 150 jaar oud was, beleef.
“Hy was ’n besondere lang man en Victoria-hotel, waar hy tuisgegaan het, moes ’n ekstra lang bed by Cradock se langste man leen,” het sy vertel.
’n Teeparty ter ere van Mevrou Swart is in die destydse park gehou. “Die geleentheid was baie formeel en al Cradock se dames moes hoede dra,” het sy bygevoeg. ’n Gedeelte van Adderleystraat was vir een aand gesluit sodat inwoners in die straat kon dans, terwyl Fanus Rautenbach kwinkslae van ’n dubbel-verdieping gebou se balkon af laat hoor het.
Met die viering van die munisipaliteit se 150ste verjaarsdag, was destydse eerste minister P.W. Botha en sy gade, Elize, die dorp se ere-gaste. Die vloed van 1974 het Cradockers bo hul vermoë takseer, maar Cradock-munisipaliteit het die dorp deur die treurige geleent-heid gedra.
“Talle gesinne is huisloos gelaat, daar was kosnood en die dorp was onbereikbaar van drie kante vir baie dae, maar tog het Cradock daardie donker dae ook oorleef.”
Cradock Kankersorg is in 1979, eers in samewerking met SANKA gestig, maar later as die onafhanklike Cradock Kankersorg in die lewe geroep. Joey was van dag een, tot met haar vertrek op 29 November, sekretaresse en voorslag van die vereniging. Sy het ook deur die jare gereeld die KankerTee ten bate van fondse gereël.
Joey het op die NG Moederkerk se kerkraad, die ACVV en steeds op die ATKV-bestuur gedien. Sy het in 1982 begin rolbal speel en was vir baie jare sekretaresse van die be-stuur van dié klub.




