’n BEJAARDE vrou van Middelburg is Sondagaand in haar huis beroof.
Die vrou, wat versoek het om eerder net as mev. H bekend te staan, het Sondagaand pas inge-sluimer toe sy omstreeks 22:15 van ’n harde slag wakkergeskrik het.
“Ek het nie dadelik onraad vermoed nie, want ek het gedink dis maar weer een van die jongmense wat in die strate jaag,” het sy gesê. “Toe ek skielik voel hoe iemand my gesig met sy hande vasdruk, het ek groot geskrik.
“Ek het na my bedliggie gevoel, dit aangeskakel en die man se gesig gesien.
“Ek was lank in die verplegingsberoep, en twyfel nie daaraan dat die man onder die invloed van dwelmmiddels was toe hy hier ingebreek het nie.”
Die aanvaller het die bedliggie se elektriese koord afgesny.
“Hy het gevra ‘waar’s jou man?’ en ‘waar’s die geld?’ en toe vat hy my selfoon, horlosie en kontant uit my bedkassie.”
Die rower het hom in haar pantoffels uit die voete gemaak, aan-gesien hy slegs kouse aangehad het.
Sy het die voordeur oopgesluit en gesien hoe die inbreker en ’n ander man straat-af verdwyn.
Sy het toe by ’n buurvrou gaan hulp soek.
“Die polisie was blitsvinnig by my huis en het dadelik na die mans gaan soek, maar hulle het ongelukkig reeds verdwyn.”
Dit blyk dat die inbreker toegang tot die huis verkry het nadat hy die slot van ’n veiligheidshek met ’n graaf afgekap het.
Die graaf behoort nie aan mev. H nie en die SAPD het dit as bewys-stuk van die toneel verwyder.
’n Saak van huisroof is by die plaaslike polisiekantoor geopen.
“Ek is regtig geraak deur die polisie se flinke optrede en be- sorgdheid oor my. Dit maak lewe op die platteland spesiaal,” sê mev. H.
Handri Vorster, raadslid van die Inxuba Yethemba munisipaliteit, het mev. H kort na die roof besoek, en het inwoners gemaan om oplettend te wees.
“Misdaad is oral, maar inwoners kan baie doen om hulself te be-skerm teen moontlike inbrake. Hou ten minste een hond snags binnenshuis, sodat dit alarm kan maak as inbrekers aan deure of vensters peuter.
“Ons het groot vertroue in die bekwaamheid van ons plaaslike polisie en hoop dat ’n arrestasie spoedig gemaak sal word, ” het Vorster gesê.


