Terwyl die vreugdevure vir suksesvolle matriekkandidate van die klas van 2021 regoor die land hoog brand is daar een plattelandse skool wat uit sy nate bars van trots.

Die Hoërskool Templeton op Bedford het die ganse Amatole Wes-distrik verras deur ’n 100% matriekslaagsyfer vir 2021 aan te teken. Die skool verdien beslis ’n deftige klop op die skouer aangesien dit geleë is in ’n distrik met skrapse hulpbronne.

Templeton, wat meer as 170 jaar oud is, het in 2020 ’n matriekslaagsyfer van 93.7% behaal.

Volgens die skool se trotse prinsipaal, Jonathan Plaatjies, is dit die eerste keer sedert hy die leisels vyf jaar gelede oorgeneem het dat die skool ’n 100% slaagsyfer behaal. Plaatjies het aan Komani-Karoo Express gesê dat die skool se 38 matrieks onder uiters moeilike omstandighede presteer het.

“Ons moet in gedagte hou dat die kandidate in hul twee vorige skooljare onder moeilike omstandighede moes leer. Daar was die COVID-19 pandemie, beurtkrag, en die rotasiestelsel van skoolbywoning,” het Plaatjies gesê.

Die skool het alles moontlik gedoen om te sorg dat hul leerlinge ten spyte van al hierdie uitdagings wel presteer. Daar is selfs gedurende vakansies klasse gehou. Volgens Plaatjies het die leerlinge met hul prestasie gestalte gegee aan hul skool se leuse: “Facta Vivent – Dade Leef.”

Plaatjies het aan Komani-Karoo Express gesê dat dié dorp en sy gemeenskap nou weer nuwe hoop vir hul kinders se toekoms gekry het.

Hy het die skool, die ouers en die leerders geluk gewens en die gemeenskap bedank vir die vertroue wat hulle in hom, die skool se opvoeders en die res van die personeel gestel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article