Die Bedford Tuinfees blom alweer! Klein Chloe Ross (middel) neem haar oggendwandeling saam met ma Tarin en pa Bruce in die pragtuin van Cavers Country Guest House. Dié tuin, geskep deur Rosie Ross, boervrou is een van die lushowe wat deur die publiek tydens die jaarlikse Bedford Tuinfees besoek (5-7 November) kan word. (Sien storie op bl. 4) Foto:MARISKA SPOORMAKER


Moenie dink daar is fout met jou wanneer jy van dié fees terugkeer huis toe en dadelik in jou eie grond – selfs al is dit ’n potplant op die vensterbank – begin krap nie, want dìt is hoe die lushowe van die Bedford Tuinfees, ’n mens inspireer.

En hierdie jaar is daar genade vir diegene wat die eerste naweek van die 2021 Bedford Tuinfees gemis het, want oor die naweek van 5-7 November kry besoekers wéér die geleent-heid om die blommeprag en tuinpraal met die tweede oop naweek eerstehands te beleef.

Die ware fees van die Bedford Tuinfees is om die roetes na die verskillende plase in die omstreke van Bedford te besoek om hul besonderse tuine te kan beleef.

Daar kan nie ’n enkele groen- óf blommetuin in hierdie dorre wêreld wees nie – kyk dan hoe eet die koedoe saam met die beeste uit die voerbak, het dit in 2019 deur die verslaggewer se gedagtes gemaal toe sy die R63 na Bedford gevolg het.

Maar met die eerste stilhou by die plaas Albertvale (12 km buite Bedford), het die besef dadelik ingesink dat dit ’n dag vol van lowerryke verrassings in dorre wêreld gaan wees, want hier is klaar gewys wat met ’n bietjie water en baie groen vingers gedoen kan word.

Blomryke beddings skuil in die koelte van hoë bome teen die moordende Karoo-son, organiese groentetuine is aangelê, en kosplante is ook in die “gewone” beddings geïntegreer, want op Albertvale geld die beginsel dat jy ook moet plant om te kan eet, het Kim van Niekerk, boervrou, nog laas verduidelik.

Geïnspireerd deur Albertvale se lushof en toewyding tot gesonde grond (hier vind jy ook ’n erdwurmplaas en komposhope), het ons die Bedford Tuinfees-roete só gretig gevolg dat ons skaars die droogheid van die veld langs die verbindingsroetes opgemerk het.

Elke tuin wat deel is van die Bedford Tuinfees het haar kleurryke en lowergroene verrassings óf met die eerste oogopslag óf in stukkies verrassings aangebied. Sommige tuine informeel, ander formeel, maar almal ewe besielend.

Die laaste stilhoupunt was die plaas Belmont (só wonderlik om te sien dit is vanjaar ook weer deel van die fees) waar ’n mens net in verwondering kon staan oor die massas kleurryke rose, geplant in blokke. Spoelklip en rots uit die omgewing is ook met groot welslae aangewend om struktuur aan terrasse en sommige beddings te gee.

Tog het Bedford se lushowe ’n belangrike boodskap aan ons oorgedra: Gee nie om watter droogte om jou heen woed nie, hou dit anderkant die hek met soveel as moontlik mooi om jou heen. Werk aan jou eie lushof, dan is dinge draagliker.

Vanjaar staan diè boodskap nóg sterker, want nie net het Bedford en omstreke se tuinskeppers aangehou plant en versorg deur die droogte nie, hul groen vingers het aanhou werk deur COVID-19 met al sy vrese en inperkinge.

Verlede jaar kon die fees juis nie weens die pandemie aangebied word nie, daarom is vanjaar se aanbieding oor twee naweke (een is reeds agter die rug) soveel meer besonder.

Elke tuin wat deel is van die Bedford Tuinfees het haar kleurryke en lowergroene verrassings óf met die eerste oogopslag óf in stukkies verrassings aangebied. Sommige tuine informeel, ander formeel, maar almal ewe besielend. Foto:MARISKA SPOORMAKER

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article