DIE tweede Tracks4Cancer is die afgelope Saterdag ten bate van die Graaff-Reinet Kankervereniging gehou.
Soos verlede jaar, is Tracks4Cancer in samewerking met die Camdeboo Nasionale Park en die nasionale parke se ope week-veldtog aangebied.
Organiseerder Johan Sparrius sê, “Nuwe stap- en fietsryroetes is vanjaar uitgelê. Ongelukkig moes ons die bergfietsroetes met 10km verkort omdat die buffels vanjaar ietwat knorrig was.”
Daar het vanjaar 239 deelnemers die avonture aangepak.
Volgens Sparrius is die kankervereniging die parkpersoneel baie dank verskuldig. “Tracks4Cancer sal nie sonder die ondersteuning van die Camdeboo Nasionale Park en personeel moontlik wees nie. Dankie aan die parkhoof Mzandile Mjadu en sy regterhand Rosemary Scheepers.”
Die park behartig roete-uitleg en beskerming van deelnemers deur senior veldwagter James Maerman.
Die gemeenskap van Graaff-Reinet was ook daar en het gehelp waar hulle kan.
Die Graaff-Reinet Kankervereniging be- dien meer as 200 kankerlyers binne hul gebied – sommige terminaal, ander onder behandeling (bestraling) en diegene wat ten volle afhanklik van fondse is vir vervoer na Port Elizabeth, asook vir kospakkies tydens hierdie ritte.
Lede van die vereniging werk vrywillig en alle fondse ingesamel word aangewend ter ondersteuning van pasiënte en hul gesinne.
Die kankervereniging bedank graag alle deelnemers, ondersteuners, vrywilligers wat gehelp het sowel as die borge.




