DIE ATKV Rhenosterberg-tak het onlangs ’n boodskap van hoop na die jeug van Midros gebring.
In samewerking met die Eastcape Midlands College in Graaff-Reinet is ’n groep van hoofsaaklik graad 11-leerlinge ingelig oor verskeie studierigtings. Skakelbeampte Julia Mhlana het leerlinge toegespreek en wenke gegee oor toekomsbeplanning.
“Staan sterk teen die versoeking om dwelms te gebruik. Moet nie mense glo wat jou vertel dwelms is goed en jou slim nie,” het Mhlana gesê.
“Fokus eerder op jou skoolwerk, jou toe-koms. Leer hard en sorg dat jy matriek maak. Indien jy nie matriek kon voltooi nie, is daar steeds hoop, want by die kollege kan jy ook jou skoolopleiding voltooi.”
Cleo Ngobese, ’n oud-student wat tans besig is met ’n internskap aan die kollege, het aan studente verduidelik dat daar ’n groot verskeidenheid studiebeurse is waarvoor aansoek gedoen kan word.
Maar, voornemende studente moet aan die nodige kriteria voldoen.
Donald Smiles, ondervoorsitter van die ATKV Rhenosterberg-tak, het Mhlana en haar kollegas bedank dat hulle al die pad van Graaff-Reinet gereis het om aan leerders die boodskap te bring dat tersiêre studies en die koste daaraan verbonde, nie as onbereikbaar gesien moet word nie.
“Daar wink ’n blink toekoms vir toegewyde studente.
“’n Gebrek aan fondse moet jou nie ontmoedig nie. Maak gebruik van elke geleent-heid wat jy gegee word om vooruit te gaan, en onthou: #weesdieverskil, ook in jou eie lewe!” het Smiles leerders aangemoedig.


