ANZISKE Kayster van Graaff-Reinet is nie net direktrise van die plaaslike museumkompleks nie, maar ook ’n eggenote, ma en aktiewe lid van die gemeenskap.
Mid-Karoo Express het namens besige lesers by haar gaan kers opsteek oor hoe om ’n aandete voor te berei wanneer daar nie tyd is om vyf ure in die kombuis te spandeer nie. Hier is haar resep.
Prutpot
Bestanddele
¼ varkboud
1 ui
1 groot wortel
3 lourierblare
½ koppie bruinsuiker
1 koppie bruinasyn
Tamatiesous
Worcestershire-sous
Speserye
Vir Opdiening:
6-8 Aartappels, gewas en in skywe gesny
Olyfolie
Roosmaryn
¼ kop blaarkool
Mayonnaise
Broodrolletjies
Metode
Anziske sê sy maak graag van haar prutprot (slow cooker) gebruik.
- In die oggend voor ek werk toe gaan sit ek die ¼ varkboud in die prutpot – ek sny die harde vel af en sit dit net so in die pot met ’n klein vetrandjie.
- Dan gooi ek die ui, wortel en lourierblare by, sowel as die bruinsuiker, asyn, tamatiesous, Worcestershire-sous en speserye van my keuse.
- Die prutpot word dan gestel om vir ongeveer sewe ure op outomatiese verstelling te werk.
- As ek vanaand by die huis kom gooi ek dit oor in ’n ander pot, rafel die vleis fyn en kook tot droog.
- Sny die aartappels in skywe, stip met olyfolie, en besprinkel met roosmaryn, sout en peper na smaak. Bak die aartappels in die oond tot sag.
Opdiening
Terwyl die vleis droogkook, maak Anziske koolslaai wat op vars broodrolletjies geskep word.
“My gesin is mal oor Desery Cane van Profit with Purpose se ‘tear & share’-rolletjies wat in pannetjies van ses verpak word.”
Die gaar varkvleis word dan hierop uitge-skep en bedien met die gebakte aartappelskywe.
Onthou: koop ekstra rolletjies en maak sommer dieselfde aand toebroodjies van die oorskietvleis. Bêre oornag in die yskas en voilà! – môre-oggend se kosblikke is klaar gereed!


