OUMA Annie Bantam het op 7 Junie haar 100ste verjaarsdag by die huis van haar dogter, Hannah, feestelik gevier.
’n Paar dae ná haar verjaarsdag het sy gesê sy voel nie lekker nie waarna sy hospitaal toe geneem is. Die familie het vir haar gaan kuier en sommer weer die 100-jarige mylpaal gedenk.
Amper twee weke ná haar 100ste verjaarsdag, op 19 Junie, is sy egter in die hospitaal oorlede.
Een van haar kleindogters, Landé Nel, het vertel dat haar ouma ’n rustige en liefdevolle mens was wat al haar kleinkinders streng groot gemaak het. Sy was ’n kerkmens, baie lief vir mense en het onder meer ook aan die Bejaardeklub behoort. Ouma Annie was baie lief vir kosmaak, maar haar guns-teling kos om te eet was vis en ‘tjips’.
Nel het self by haar ouma geleer kosmaak en sy vertel dat hulle altyd deur haar vermaan is om gereeld kerk toe te gaan.
Nel het verder vertel dat haar ouma hulle ongeveer ’n week voor haar dood aangesê het om klere in te pak, want hulle vlieg Bloemfontein toe. Hulle neem aan sy het geweet dat sy sou weggaan.
By haar begrafnisdiens het Vivian Swartz gesê dat sy wel vlug 100-02 gehaal het waarmee sy huis toe is en veilig geland het.
Annie Maart is op 7 Junie 1919 op Vaaldraai in die Cradock-distrik gebore. Daar het sy en haar man, Jan Bantam, gebly voordat hulle baie jare later Somerset-Oos toe verhuis het.
Hulle het ses seuns en ses dogters gehad waarvan sewe reeds oorlede is. Jan het haar in 2001 ontval waarna sy toe eers alleen gebly en tussen familielede gekuier het voordat sy by haar dogter, Hanna, ingetrek het.
Sy laat twee dogters, drie seuns, 24 kleinkinders, 43 agterkleinkinders, drie agter-agterkleinkinders agter.


