Ambulansdienste in Cradock, Middelburg en
Komani is in ‘n krisis en moet dringend aangespreek word.

Só sê Retief Odendaal, DA-leier vir die Midlands-kiesafdeling, wat ‘n mosie hieroor by die Oos-Kaapse wetgewer gaan indien.

Odendaal meen dat mense se lewens hierdeur in gevaar gestel word
deurdat daar net vyf ambulanse is wat ‘n oppervlak van 3 813 vierkante kilometer
moet bedien. Hy sê die gevolg hiervan is
dat ‘n ambulans nie voor verloop van ‘n uur by ‘n pasiënt kan opdaag nie.

“Hierdie probleem stel mense se lewens in
gevaar soos met die onlangse geval van ‘n vrou wat haar tweeling tydens kraam
verloor het omdat die ambulans te laat was om haar hospitaal toe te neem,” het
hy verduidelik.

In ‘n vraag oor swak ambulansdiens wat die
DA aan Sindiswa Gomba, Oos Kaapse LUR vir gesondheid, gevra het, het sy bekend
gemaak dat hierdie paar ambulanse ook nog pasiënte na die Frere-hospitaal in
Oos-Londen en Cecilia Makiwane-streekshospitaal in Port Elizabeth moet vervoer.

“In die Kaap, waar die DA aan bewind is, is
ambulansdienste uitgesprei oor die
provinsie vir vinnige en effektiewe aandag aan mediese noodgevalle,” het
Odendaal gesê.  “Die noodgeval word oor die telefoon
geassesseer en prioriteitsgevalle word in 80% van gevalle, binne 15 minute
bedien.”

Hy was ook geskok oor Gomba se verklaring
dat daar ‘n geweldige personeetekort van 63% in Komani bestaan. “Personeel is glo ook oorwerk, kry nie tyd om
te rus nie en is uitgeput terwyl geweldige groot bedrae oortyd betaal moet
word.

“Die LUR 
se verskonings spreek nie juis pasiënte in nood op Cradock, Middelburg en Komani – wat ure vir ambulanse moet wag – aan nie en
dit is eenvoudig nie aanvaarbaar dat personeeltekort nie aangespreek word nie,”
het Odendaal gesê.

Hy gaan ‘n mosie by die Oos-Kaapse wetgewer indien wat versoek dat die Departement van Gesondheid se ambulansdiens gedesentraliseer word en dat die kritieke personeeltekore so gou moontlik aangespreek word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article