Leerders van die Hoërskool Middelburg sien uit na die jaarlikse interskole teen Kirkwood Foto’s:Johanette Photography

Die Primêre Skool Karel Theron is opgewonde oor die interskole wat vandag teen Kirkwood begin.

DIE interskole- en eeufeeskoors loop hoog op Middelburg en die regte egte Piet Pompies gaan ook daar wees!

Dié naweek gaan al wat leef en beef na die Hoërskool Middelburg stroom waar die jaarlikse interskole tussen Middelburg se twee skole, die Primêre Skool Karel Theron en die Hoërskool Middelburg, teen Kirkwood gaan plaasvind.

Verskeie reünie groepe en ’n magdom oud-skoliere word op die dorp verwag.

Vanaand begin die groot opwinding met die “Big Brag”-funksie in Karel Theron se skoolsaal. Dit is die geleentheid waar die interskole-spanne aangekondig word. Sy edele Piet Pompies (van DJ Ossewa-faam), gaan die gaskunstenaar by die groot spoggery wees.

Vrydagoggend word ’n optog met tromme en vrolike kinderstemme deur Middelburg se strate gehou om die inwoners en sakelui bewus te maak van die interskole-naweek.

Vanaf 10:00 tot 13:00 vind die laerskole tennis by Karel Theron plaas terwyl die hoërskole daarna van 14:00 tot 17:00 by die Hoërskool Middelburg speel.

Groot woorde en wyshede sal heers wanneer die redenaars van 11:00 tot 13:00 teen mekaar meeding, terwyl konsentrasie en slim skuiwe van 13:00 tot 15:00 by die skaak gemaak word.

Die gholf slaan om 10:00 buite Middelburg op die gholfbaan af, terwyl muurbal die aand van 18:00 tot 20:30 by die Middelburg-klub gespeel word.

Vrydagaand gaan daar heerlik gekuier word by Karel Theron se skoolsaal waar Piet Pompies weer die gehoor gaan vermaak.

Kaartjies vir hierdie geselligheid is R150 en kan by die hoërskool gekoop word. Tafelbesprekings is by 049 842 1560.

Saterdag se netbal en rugby begin om 08:00 by die hoërskool. Die eerste netbalspan seremonie is 10:40 en die wedstryd begin om 11:00.

Om 12:30 gaan die Primêre Skool Karel Theron se Pom-Poms ’n pronkvertoning op die rugbyveld hou.

Die eerste rugbyspanne se voorstellingseremonie is daarna met die afskop waarvoor almal wag om 13:00.

Middies-skoliere gaan tydens die naweek “vleis-vir-verf” lootjies teen R50 asook “voorspel die tellings” lootjies teen R10 verkoop. In die laasgenoemde word die finale tellings van eerste netbal- en rugby-spanne voorspel.

Die interskole-koors styg daagliks en die opgewondenheid oor die eeufees is duidelik hoor- en voelbaar onder die kinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article