
Wat is van die versoeke wat Kersvader vanjaar van die kleinspan ontvang het? Die Mid-karoo Express het ’n paar kinders gevra om hul Kerslysie met ons te deel.
Mia Blaauw (4) van Middelburg het ’n stewige Kerslysie vir Kersvader opgestel. Haar eerste keuse is ’n plaas met skape, beeste en báie perde . . . dan ook ’n hele spul “make-up en cutex; ’n pop met baie hare” en ’n Paw Patrol-speelding sal ook gaaf wees.Foto:JOHANETTE VAN HEERDEN
Nomsa Martins van Hofmeyr (4), pleegkind van Boeta en Dolly van Heerden, het gesê sy soek twee goed van Kersvader vanjaar: Sy wil baie graag ’n pienk fiets hê en dan wil sy ook graag hê dat haar ouboet en ousus – Boeta en Dolly se twee kinders, Elton en Melanie van Heerden – huis toe moet kom vir Kersfees. Foto:TERESA OPPERMAN
Michayla Lottering (5) het gesê sy soek “’n pop met ’n pienk rok” van Kersvader as hy vanjaar op Bedford besoek aflê. Foto: CATHERINE KNOX
Die 3-jarige Xavier Jegels van Fort Beaufort is lankal reeds in ’n Kersfeesstemming. Hier wys hy aan Mid-Karoo Expresshoe groot die trok moet wees wat Kersvader op Oukersaand in sy Kerskous moet plaas. Foto: NOLAN VENTER
Neavah Prinsloo (4) van Cradock hou styf duim vas dat Kersvader vir haar kombuistoerusting-speelgoed sal bring. Dan sien sy ook baie uit na ’n lang blou rok – “wat tot op die grond hang” – soos dié van Elsa in die animasiefliek Frozen. Om by die rok te pas, benodig sy ’n pruik van wit hare. “Ek wil nie nog poppe hê nie, want ek het al genoeg,” het sy gesê. Foto: WILNA DE KLERK
Ghisela (Gizzy) Lategan van Graaff-Reinet sou graag ’n kunsstelletjie of handvlytstelletjie wil hê om saam met Ouma Liesl te verf! Foto: VERSKAF

