DIE Cradock Gemeenskapsprojek om die dorp weer reg te ruk, is besig om al meer belangstelling te lok.
Meeste dorpsbewoners en selfs plaasboere raak nou betrokke om Cradock weer skoon, netjies en aantreklik te maak.
Die projek het ’n paar maande gelede begin met ’n reuse skoonmaakproses om watervoorsiening na die hoërliggende dele van die dorp te verbeter. Sedertdien is verskeie projekte aangepak en die verskil is duidelik sigbaar.
Lou Venter, wat die projek begin het, word tans bygestaan deur ’n hele klomp sakemanne en –vroue. Selfs die boere laat nie op hul wag om hul deel by te dra nie. Die dames van die plaaslike tuinbouklub het ook ingespring en is volstoom besig om skoon te maak, te plant en te verfraai.
Carien Bruwer, een van die inwoners wat betrokke is by die projek sê: “Dit is só goed om te sien hoe mense saamwerk. As iemand op die selfoon-groep noem dat hulle leë sakke, harke, kos vir die werkers, ’n bakkie om rommel weg te ry of enigiets anders benodig, is daar gou-gou iemand wat hulp aanbied.
“Dit is vir my ook wonderlik dat die boere so saamwerk om die dorp reg te ruk,” het sy gesê.
Daar was nog nie ’n amptelike projek om die slaggate in die strate toe te maak nie, maar baie inwoners het uit hul eie die haglike situasie aangespreek en dit is verbasend hoe baie strate nou weer rybaar is.
Cradockers wat nie fisies kan skoffel en hark nie, gee hulle bydraes in kontant wat help om die lone van werkers te betaal.
Die regruk-projek het nou uitgebrei na die dorp se toegangspaaie, om daar ook skoon te maak.
