DIE Cradock Gemeenskapsprojek om die dorp weer een van die spogdorpe in die omgewing te maak, is steeds goed op dreef.

Bykans al die besighede en ’n groot aantal ander inwoners is by hierdie opheffingsprojek betrokke. Dié wat nie aktief die fisiese werk kan doen nie, gee finansiële ondersteuning en kospakkies vir die werkers.

Op sosiale media gons dit oor die projek en selfs daar het lede toegeneem.

Dit is ’n plesier om weer in die meeste van Cradock se strate te ry aangesien die projek, wat aanvanklik net ’n versoek was vir inwoners om gate in strate voor hul eie huise en besighede op te vul, ontplof het in ’n “algehele uitwissing” van slaggate.

Benewens dat die dorp en omgewing se vullis en rommel opgeruim en weg-gery word, word bome ook gesnoei en water gegee, straathoeke met plante versier en die verfkwas aangewend waar nodig.

Die gebied langs die toegangspaaie na die dorp word ook opgeruim.

Die geskiedkundige begraafplaas is ook weer in ’n netjieser toestand. Besoekers aan die dorp besoek graag die grafte van Engelse wat in die Boere-Oorlog naby die dorp gesneuwel het, sowel as van die Poolreisiger, Reginald Koettlitz, Cradock se eie Harry Potter en vele ander.

Plaasboere en hul vroue sowel as skole in die omgewing ondersteun die projek ook ten volle.

Die plaaslike Spar het ’n plakkaat kompetisie aangekondig vir leerders van graad 4 tot 9 ter ondersteuning van die gemeenskapsprojek.

Die projek het ook gesorg vir aan- sienlike werkskepping aan mense wat andersins geen inkomste gehad het nie.

Morsjorse is daar steeds. Die dorp se sakekern was besaai met rommel ná die onlangse pensioen-uitbetalings.

’n Beroep word op dié morsjorse gedoen om hul morsgewoontes af te leer en betrokke te raak om ’n skoner en leefvriendelike omgewing te skep.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article