Lente is verby en Cradock se klein wit reiertjies (bulbulbus iris) is terug van waar hulle die winter op warmer plekke deurgebrig het.
’n Virtuele vergadering is onlangs gehou om ’n oplossing te vind vir die probleme wat hierdie, deur die wet beskermde spesie voëltjies, in woongebiede in Cradock aanrig.
Teenwoordig op hierdie gespreksessie wat deur verteenwoordigers van Inxuba Yethemba-munisipaliteit gereël is, was Beverly Rademeyer van die Dierebeskermingsvereniging in Gqeberha, munisipale verteenwoordigers Rika Featherstonehaugh, ’n raadslid, Wilhelm Smit, voorsitter van die plaaslike Sakeforum en Gerhard Greyvenstein wat die inwoners van Cawoodstraat, waar die voëltjieplaag tans op sy ergste is, verteewoordig het.
Rademeyer, wat bereid is om vir minstens ’n week Cradock toe te kom om die probleem te probeer oplos, het gesê dat sy kennis neem van die frustrasie van inwoners, die onmenslike stank en die onhigiëniese omstandighede, maar gewaarsku dat, as die voëls uit Cawoodstraat verwyder word, hulle net na die volgende straat in die woongebied sal verskuif. Sy het inwonders gewaarsku dat ’n langtermyn oplossing gevind sal moet word en dat wonders nie oornag sal geskied nie.
“Dis ’n probleem wat al lank aankom en ons sal die voëls na iewers buite die dorp moet verskuif. Daarvoor sal ons toerusting en mannekrag benodig aangesien die neste, eiers en klein voëltjies ook sal moet verskuif word,” het sy gesê. Sy het ‘n beroep op mense gedoen om kalm te bly oor die situasie.
Ná verskeie insae gelewer is en Greyvenstein, wat al drie jaar in die gebied woon, die vergadering vertel het van die gesondheidsrisiko, die verskriklike gemors op motors en huise, die waarde van hul eiendom wat naby niks gedaal het nie en sy verskeie pleidooie en briewe aan die munisipaliteit waarop daar in drie jaar nie gelet is nie, is besluit dat Rademeyer Cradock toe sal kom om verskuiwing van die voëls te monitor.
Intussen sal die munisipaliteit sorg vir kratte om die gevangde voëls aan te hou, lere en ander toerusting om die neste te bereik en mannekrag vir die operasie.
Tim de Jongh, bestuurder van bio-diversiteit in Chris Hani-distriksmuisipaliteit in Komani, wat weens ’n ander verpligting laat by die vergadering aangesluit het, het gewaarsku dat voëls nie sonder die nodige verskuiwigspermitte van een plek na ’n ander verskuif kan word nie. Hy het uit jare se ondervinding die vergadering gewaarsku dat daar geen oplossing vir dié voëltjieprobleem is nie.



