DIE Appèlhof in Bloemfontein het verlede week uitspraak voorbehou nadat Agri Oos-Kaap argumente oor die regsgeldigheid van tegniese regulasies, ten opsigte van hidrouliese breking wat vantevore deur die minister van minerale hulpbronne gepromulgeer is, aangevoer het.
Die Appèlsaak volg op ’n beslissing deur regter Gerald Bloem in die Grahamstadse Hooggeregshof in Oktober 2017 dat slegs die minister van omgewingsake by magte was om sodanige regulasies uit te vaardig.
Die departement van minerale hulpbronne het appèl aangeteken teen Bloem se beslissing.
Janse Rabie, Agri SA se beleidshoof van natuurlike hulpbronne, het dié landbouorganisasie se standpunt duidelik gestel in ’n mediaverklaring wat Maandag uitgereik is: “Sonder die nodige bevredigende inligting omtrent die beskikbaarheid en behandeling van water om ’n hidrouliese breking en skaliegas industrie in Suid-Afrika te onderhou, kan Agri SA nie die regering se oënskynlike aptyt vir ’n gasindustrie in hierdie land ondersteun nie.”
Derek Light, prokureur van Graaff-Reinet wat namens Agri Oos-Kaap in die saak optree, sê dat boere en grondeienaars in die Karoo reeds sedert Januarie 2009 teen beplande skaliegas-ontwikkeling in die Karoo én elders in die land veg.
“Die saak is ’n bewys van boere se vasbeslotenheid om ná meer as ’n dekade steeds sterk teen hidrouliese breking te staan.”
Light het die boeregemeenskap en landbouorganisasies geloof vir hul deursettingsvermoë in die stryd teen internasionale oliemaatskappye. “Ek het die grootste respek vir boere en hul verteenwoordigende liggame vir hul besluit om die landbou, werkers en voedselsekerheid te beskerm.”
Ten spyte van regeringsamptenare se ywer om skaliegasontginning in Suid-Afrika aan die gang te sit, blyk wêreldwye navorsing wat reeds oor verskeie jare strek dat dié mynbedryf grootskaalse verwoesting tot gevolg kan hê in landelike én dorpsgebiede deur onder meer die besoedeling en uitputting van ondergrondse waterbronne en destabilisasie van grond.
