CHRIS Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM) se betaling aan Eskom om Inxuba Yethemba-munisipalieit (IYM) se skuldlas effens te verlig kon teen druktyd nog nie bevestig word nie.

Volgens ’n skrywe van Xolela Msweli, IYM se munisipale bestuurder, het CHDM se burgemeesters- komitee die betaling goedgekeur, maar dit moes op ’n spesiale vergadering op 11 Junie bevestig word. Die betaling sou moontlik op 12 Junie plaasgevind het.

Intussen het ’n prokureur van Cradock, afgevaardigdes van belas-tingbetalers- en sakeforums van Cradock en Middelburg verlede Vrydag samesprekings met regslui in Grahamstad gehad.

Die doel van die gesprek was om seker te maak dat die elektrisiteits- toevoer in die twee dorpe nie in die toekoms weer onderbreek sal word nie.

Intussen het IYM ’n dringende aansoek aan die hof in Grahamstad gebring om Eskom te verplig om die krag aan te skakel totdat hulle tot ’n vergelyk kan kom.

Die hof het die interdik tydelik toegestaan en sekere tydsbepalings, waarin ’n ooreenkoms bereik kan word, in plek gestel. Indien hierdie afbetalingsooreenkoms nie bereik word nie, begin die probleme weer van voor af.

IYM steun sterk daarop dat hulle omtrent R30 miljoen geskuld word deur CHDM en die Parkeraad.

IYM het in die verlede reeds ooreenkomste met Eskom gemaak wat nie nagekom is nie en dit het daartoe gelei dat Eskom die dorpe se krag afgesny het. Die groep verteenwordigers van Cradock en Middelburg stel dit ten doel dat ’n ooreenkoms wat bereik word, nagekom moet word om krag-onderbrekings te stop. “Dit lyk nie eers of die munisipaliteit tans hul maandelikse rekening betaal nie,” het ’n verteenwoordiger van die Cradock-belastingbetalersvereniging gesê.

“Die enigste manier is om elektrisi-teit-inbetalings te ‘ring fence’ sodat Eskom betaal word en die geld nie aangewend word vir iets anders nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article