DIE gemeenskap van Bezuidenhoutville op Adelaide is in rou gedompel na die dood van ’n belowende rugbyspeler, Jeandrè Christian (25).
Christian is verlede Saterdag deur ’n jeugdige voor ’n taverne in dié woonbuurt doodgesteek.
Christian het onlangs as onderwyser-assistent by die Primêre Skool Adelaide begin werk en het nog nie eers sy eerste betaling vanaf die Onderwysdepartement ontvang nie.
Christian was die enigste seun van Celestine Christian, ’n jarelange onderwyseres op Adelaide. Sy sê hy was ’n talentvolle rugbyspeler en het uitgeblink in enige span vir wie hy op die veld gedraf het.
“Hy het baie prestasies op die rugbyveld behaal en baie mense met sy spel beïndruk,” het Celestine Christian aan Komani-Karoo Express gesê.
Christian het in Januarie vanjaar vir die Po-lisierugbyklub begin speel en sou volgende jaar vir Grens uitgedraf het. Volgens die Adelaide polisie is ’n verdagte tans in aanhouding in verband met Christian se dood.
Christian laat sy ouers sowel as ’n 5-jarige seun en bykans 3-jarige dogtertjie na.




