Drie sekuriteitswagte wat by die Urquhart Park in Graaff-Reinet gestasioneer was, het verlede Woensdag, 26 Maart, kortliks in die Graaff-Reinet-landdroshof verskyn weens hul beweerde betrokkenheid by die moord op die 31-jarige Shaldray Roman.
Sedert die voormalige huurder van die Urquhart Park dit op 8 Junie verlede jaar ontruim het, word dit bewaak deur sekuriteitswagte van die sekuriteitsmaatskappy wat deur die Dr Beyers Naudé Munisipaliteit gekontrakteer is.
Die betrokke persoon het die park vir meer as ‘n dekade by die munisipaliteit gehuur, maar dit oor die jare ernstig laat verval, terwyl sy munisipale rekening vir huur en dienste tot meer as R1 miljoen agterstallig geraak het.
Daarom het die munisipale raad aanbeveel dat hy dit moes opgee.
Daar word beweer dat die beskuldigdes op 24 Maart, aan diens was toe Roman glo die Urquhart Park-perseel onwettig betree het en hulle in ‘n geskil met hom betrokke geraak het. Shaldray Roman het beserings opgedoen en is na die Midland-hospitaal in Graaff-Reinet geneem, waar hy later aan sy beserings oorlede is.
Adjudant-offisier Majola Nkohli, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Sarah Baartman-distrik, het bevestig dat die drie beskuldigdes in aanhouding bly en dat die saak tot Woensdag, 2 April, uitgestel is vir hul borgtogaansoeke.
‘n Versoek vir kommentaar is aan beide die Dr Beyers Naudé Munisipaliteit en die betrokke sekuriteitsmaatskappy gerig en sal geplaas word sodra dit ontvang word.



