MARINA Marais, plaasvrou en onderwyseres by Gill-Kollege in Somerset-Oos, deel vandeesweek haar gunsteling-gereg met lesers.
Marina en haar man, Hennie, boer hul lewe lank op Brakfontein en vandaar die naam vir die heerlike filet. Marina se stokperdjies is kosmaak en tuinmaak – dit is waar sy geheel en al kan ontspan.
Brakfontein koedoe–filet
Bestanddele:
1 koedoefilet ongeveer 300-500g
½ koppie asyn
1 eetlepel Worcestershiresous
1 teelepel bruinsuiker
Olyfolie
Swartpeper
Vars geskroeide en gemaalde koljander
Knoffelbotter
Metode:
- Marineer die filet in die halwe koppie asyn, 1 eetlepel Worcestershiresous en 1 teelepel bruinsuiker en olyfolie.
- Rol die filet in grof gemaalde swartpeper, vars geskroeide en gemaalde koljander.
- Braai die filet bruin aan die buitekant in ’n warm ysterpan.
- Smeer knoffelbotter op, draai in foelie toe en laat rus terwyl jy die volgende sous voorberei:
Sous:
2 middelslag rooi uie in skywe gesny
Balsamiese asyn (na smaak)
1 bottel van een van die volgende slaaisouse: Italiaans, Frans of Balsamiese (gekoopte) sous
Avokadopeer in skywe gesny
1 pakkie vars sampioene in skywe gesny
Olyfolie
Metode:
- Braai uie in olyfolie en voeg Balsamiese asyn by
- Voeg avokadopeer en sampioene by
- Gooi hele bottel sous oor en roer liggies deur
- Sny die filet in skywe en be-dien met die sous op Ciabattabrood of vars roosterkoek.



