DIE sybokhaarbedryf het ’n dringende ondersoek gelas na beweerde ongeoorloofde praktyke op Suid-Afrikaanse plase rakende skeermetodes en hantering van angorabokke wat wêreldwyd op video versprei is.

Volgens Deon Saayman, besturende direkteur van die SA sybokhaarbedryf, bestaan die vermoede dat die video saamgestel is deur ’n buitelandse besoeker wat homself voorgehou het as iemand wat daarin belangstel om na Suid-Afrika te verhuis en in die bedryf betrokke te raak.

Saayman het in ’n verklaring gesê dit blyk dat die organisasie, People for the Ethical Treatment of Animals (PETA), die videogrepe versprei het, en dit gedoen het om ’n opskudding onder verbruikers te veroorsaak.

“Die bedryf in Suid-Afrika is nie sommer net saamgeflans nie, dit is gestruktureerd en georganiseerd.

“Wanneer ’n mens kyk na die angorabokboere in Suid-Afrika, die bedryf, die verwerkers en vervaardigers, kom ’n mens vinnig tot die besef hoeveel passie en toewyding daar regdeur die ketting is.

“Die angorabok is sekerlik die kleinvee-tipe wat voedsel die beste omskep in vesel en dit is juis die vesel en die kwaliteit daarvan wat die inkomste vir die boer bepaal. Dit is juis die rede hoekom boere hulle diere uiters goed versorg.

“Dit is ook uiters noodsaaklik om te verseker dat diere gemaklik is tydens die skeerpro-ses en hantering op standaard is,” het hy gesê.

Oor die afgelope nege jaar het die bedryf ook baie goeie sukses behaal met die implementering van volhoubare produksieriglyne en het sodoende die vertroue van verskeie internasionale handelsmerke en verbruikers gewen.

“Dit is dus jammer dat verbruikers en han-delsmerke negatief reageer op berigte deur organisasies wat gekant is teen natuurlik-geproduseerde vesels, sonder om hulle te vergewis van die feite op die grond.

“Dit blyk dat sulke organisasies eerder wil sien dat ons die planeet verwoes deur die gebruik van sintetiese vesels en die oseaan besoedel word deur mikroplastiek.”

Saayman het gesê die bedryf het derhalwe sy eie ondersoek gelas na bewerings van ongeoorloofde praktyke op die video rakende skeermetodes en hantering van die diere.

“Hierdie videogrepe skets ’n totale wanpersepsie van die bedryf en is daarop gemik om ’n opskudding onder verbruikers te veroorsaak.”

Wanneer die ondersoek afgehandel is en regstellende aksies geïdentifiseer is, sal hierdie aksies na die relevante partye/organisa-sies verwys word vir implementering.

“Die sybokhaarbedryf het 30 000 afhanklikes wat staat maak op ’n inkomste en om in hul behoeftes te voorsien.

“Die bedryfstrukture sal alles binne hul vermoë doen om te verseker dat die korrekte beeld van die bedryf aan die buitewereld oorgedra word en die volhoubaarheid van die bedryf in Suid-Afrika te verseker,” aldus Saayman.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article