Hier probeer Troy Delport, regtervleuel van Marlow, die verdediging van Framesby troef.Foto: VERSKAF


DIE Hoër Landbouskool Marlow in Cradock het op Saterdag, 26 Mei teen die Hoërskool Framesby van Port Elizabeth op Marlow se tuisveld rugby gespeel.

Tien van Marlow se spanne het teen Framesby gespeel en Marlow se vier-de span het teen Union High se derde span gespeel. Al die kragmetings was kliphard.

Marlow se eerste rugbyspan was in ’n titaniese stryd gewikkel. Framesby, wat in hul vorige wedstryd gemaklik met Boland Landbou afgereken het, was vasberade om op hul goeie vorm voort te bou.

Die eerste 25 minute van die wedstryd was baie fisies met Framesby wat kamp in Marlow se halfgebied opgeslaan het.

Marlow was reg vir die fisiese stryd en het Framesby met rotsvaste verdediging uit hul doelgebied gehou. Kort voor halftyd het Marlow se Ambesa Zenzile ’n skitterdrie gedruk nadat hy ’n taktiese skop uit sy eie kwartgebied opgevolg het. Die halftydtelling was 8-7 in die Wolramme se guns.

In die tweede helfte het Marlow ’n bietjie meer gebiedsvoordeel geniet teen ’n effens moeë Framesby span, maar kon ten spyte van ’n tweede drie deur Ambesa, op kritieke tye nie afrond om die telbord aan die rol te hou nie.

Framesby het uiteindelik hul ge-leenthede meer effektief benut en twee reuse strafskoppe deur hul losskakel, Juandré Liebenberg, het die besoekers kort voor die einde van die wedstryd buite bereik van die Wolramme geplaas. Framesby het die klipharde, skouspelagtige wedstryd welverdiend met 27-16 gewen.

Marlow se ander spanne het soos volg
gevaar (Marlow se tellings eerste):

Tweede span 18-26

Derde span 26-7

Vierde span t Union High derde 52-0

o.16A-span 10-15

o.16B-span 5-10

o.15A-span 36-21

o.15B-span 10-0

o.15C-span 45-7

o.14A-span 3-61

o.14B-span 12-32

  • Marlow het op Saterdag, 2 Junie teen Queens Kollege van Queenstown op Marlow kragte gemeet. Daar het twaalf wedstryde plaasgevind en die Wolramme het 11 hiervan gewen. In die hoofwedstryd het Marlow vir Queens met 37-31 geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article