Matrikulante van die Hoërskool Newtown op Fort Beaufort sit vir hul proefeksamen. Foto:NOLAN VENTER


MATRIKULANTE aan die Hoërskool Newtown op Fort Beaufort moes hul proefeksamens die afgelope twee weke skryf in geriewe wat nie op standaard is nie.

Die skool, wat in Mei 2015 in die Newtownwoonbuurt se gemeenskapsaal met twee gr. 10-klasse begin is, word tans uit vyf opslaan-klaskamers bedryf. Sedert die klaskamers se oprigting in 2016 het geen verdere ontwikkeling by die skool plaasgevind nie.

Die skool se eerste groepie van 17 matrikulante het verlede jaar vir hul matriekeindeksamen gesit.

Luidens Margorie Fester, skoolhoof van Newtown, het hulle voortydig in Oktober 2016 by die klaskamers ingetrek omdat hulle bang was dat vandale die leë klaskamers sou beskadig.

“Daar was nie eers ’n formele openingseremonie nie,” het Fester gesê.

Tans het die skool geen water, elektrisiteit of selfs toiletgeriewe nie. Die leerders en onderwysers gebruik die geriewe van ’n naburige primêre skool en dit op sigself gee aanleiding tot dissiplinêre uitdagings vir albei skole.

In dieselfde tyd is ’n deel van die ou Towergeboue op die dorp vroeër vanjaar opgegradeer en gerestou-reer tot ’n volwaardige, moderne hoërskool.

Die projek het die Oos-Kaapse onderwysdepartement glo R53 miljoen uit die sak gejaag. Newtown met sy bykans 200 leerders het vanjaar 53 matrikulante en word deur vele uitdagings in die gesig gestaar.

Luidens Fester het sy gesukkel om die skool se vakante poste te vul omdat daar net eenvoudig ’n groot tekort aan Afrikaanse onderwysers is. “Ek sit nou nog met een vakante pos wat ek sukkel om gevul te kry,” het Fester moedeloos gesê.

Om alles te kroon is die skool se Afrikaanse onderwyser sedert die eerste kwartaal met onbepaalde siekverlof.

Mandisa Lubedu, onderwysont-wikkelingsbeampte in dié betrokke kring vir die Amathole Wes-distrik, het by navraag gesê dat sy net so gefrustreerd voel dat daar met die bouery van die hoërskool in Newtown so gesloer word.

“Ek hoop dinge gaan nou na ’n punt toe begin kom,” het sy gesê.

Fester is onlangs die versekering gegee dat ’n taakspan van die onderwysdepartement binnekort die skool gaan besoek.

Intussen gaan die personeel maar voort met die hoop dat omstandighede by die skool sal verbe-ter en dat die langverwagte skool uiteindelik gebou sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article