TEN spyte van die skielike koue weer die afgelope naweek, het inwoners van Graaff-Reinet Saterdagoggend in groot getalle vir die Pink Trees for Pauline-optog opgedaag.
Pretlopers was nie skaam om in vrolike pienk uitrustings die pad tussen die Hoër Volkskool en Our Yard af te lê nie. ’n Aantal voertuie is met behulp van ballonne en papierblomme vir die geleentheid in feestelike pienk vlotte omskep.
Oud en jonk het die koue motreën trotseer om te voet, per fiets, op ’n vlot en in stootwaentjies aan dié bewusmakingsgeleentheid deel te neem. Deelnemers het ná afloop van die optog by die Food Court-stalletjies saamgekuier, wat maandeliks deur Our Yard en Polka aangebied word.
Carol-Ann van Jaarsveld vertel dat vanjaar se Pink Trees-geleentheid ekstra spesiaal was, omdat dié inisiatief op 19 Oktober ses jaar gelede gestig is.
“Elkeen van ons ken ’n Pauline, ’n vriendin, ’n ma of ’n ouma wat aan kanker oorlede is, of wat kanker oorwin het. Pink Trees for Pauline is gestig om fondse in te samel en gemeenskappe van kanker bewus te maak. Hierdie fondse word nie vir navorsing geskenk nie, maar direk in elke gemeenskap aangewend om kankerpa-siënte se basiese behoeftes aan te spreek.
“Ons help prakties; soos om ’n behoeftige, terminale pasiënt van iets so eenvoudig soos ’n matras te voorsien, of gesinne by te staan waar broodwinners siek is, of ’n ete te neem na ’n ge-sin waarvan die mamma siek is. Pink Trees for Pauline maak ’n ongelooflike verskil en bring mense bymekaar om hande te vat teen kanker.”
Vir meer inligting, om ’n skenking te maak of ’n Kwêla-insetsel oor Pink Trees te kyk, besoek www.pinktrees.co.za.



