DIE voortslepende probleem met rondloperdiere in en om Middelburg het inwoners warm onder die kraag.
’n Ontstelde inwoner van Middelburg het Mid-Karoo Express verlede week gebel nadat hy die verkeersdepartement en polisie in kennis gestel het van ’n groot trop beeste op die N10.
Mid-Karoo Express het self gaan ondersoek instel en nagenoeg 80 beeste op dié hoofpad tussen die gholfbaan en Karooroos-padstal aangetref. Verskeie motors en vragmotors moes haastig rem om ’n botsing met ’n bees te vermy. Die bees-te blyk almal afkomstig van die aangrensende meentgronde te wees, en het rustig by ’n oopge-late hek uitgestap na die groen gras weerskante van die besige N10.
Daar was geen enkele beeswagter in sig nie, en ten tyde van Mid-Karoo Express se besoek (omstreeks 13:30) was daar geen owerhede op die toneel nie.
Inxuba Yethemba-munisipaliteit is reeds vroeër vanjaar op aanklag van die Middelburg Boere-unie deur die hof gelas om ’n skut, skutmeester en die nodige bywette in plek te stel ten einde die rondloperdiere in Middelburg te verwyder. Dié hofbeslissing is steeds nie deur die munisipaliteit eerbiedig nie.
“Dit gaan my verstand te bowe dat die munisipale bestuurder en burgemeester nog nie gearresteer is nie. Is minagting van die hof dan nie meer ’n gruwelike klap in die gesig van die regsisteem nie?” wou die inwoner wat Mid-Karoo Express gebel het, weet.
Op pad terug vanaf die N10, het ons korrespondent verby die statige ou Keg & Springbuck-hotel gery, waarvan die krimpende heining ge-tuig van die daaglikse beweiding deur ’n trop bokke wat straat-af op ’n residensiële erf oornag, en soggens die sleutels van vryheid van die dorp geniet.
Die Middelburg Sake- en Belastingbetalersforum het inwoners versoek om oplettend te bestuur, veral snags op die paaie rondom die dorp.
Ten einde rondloperdiere in dorpstrate te vermeld en ’n noodlottige ongeluk te voorkom op hoofpaaie, kan inwoners die volgende nommers skakel:
Raadslid Vuyisile Bene (wyk 9 – Middelburg-dorp en KwaNonzame): 078 139 8528.
Raadslid Ada Sammy (wyk 7 – plase, Rosmead en Midros): 082 57 5091.
Raadslid Thulani Msali (wyk 8 – Lusaka en Midros): 060 926 0719.
Gedurende kantoor-ure kan belastingbetalers ook dié probleme onder die aandag bring van die munisipale bestuurder Xolela Msweli (066 479 1263) en eenheidshoof van Middelburg, Enoch Matoto (073 651 7544).
Die kontaknommer vir die provinsiale verkeersdepartement, wat in kennis gestel moet word van rondloperdiere, is 048 881 2643.



