SY sal volgende jaar ’n hele negentig jaar oud wees, maar die spoggerige speekwiel Chrysler 75 met sy seiltent en dickey seat het verlede Woensdagmiddag Cradock se bekende Mark-straat op ’n stewige drafstappie binnegekom.

Die Chrysler 75 van David en Barbara Berks van Kanada, is die oudste van die groep veteraan- en klassieke motors wat op hul Afrika-toer van 6 780 kilometer van Dar es Salaam in Tanzanië tot by Kaapstad reis.

Die groep van 28 motors bestaan uit sewe veteraanmotors van voor 1941 en sluit ’n 1930 Ford A Cabriolet, 1932 Plymouth, drie 1938 Chevrolet Fangio Coupes en ’n 1935 Buick Saloon in.

Daar is ook nege motors van voor 1966 en tien motors van die tydperk 1967 tot 1976. Al hierdie motors is van hulle onderskeie tuislande na Dar es Salaam verskeep en sal weer vanaf Kaapstad terug huis toe verskeep word.

Volgens Nikki Bannister, die toerleier van Rally Round in Engeland, kom die deelnemers onderskeidelik van Australië, België, Kanada, Duits-land, Italië, Meksiko, Nederland, Swede, Engeland en Amerika. Die groep het ook drie ondersteunings- voertuie waarin onder meer drie motorwerktuigkundiges ry.

Die besoekers wat Woensdagaand in die bekende Tuishuise en Victoria Manor in Cradock oornag het, kon nie genoeg praat oor die landskappe, verskillende kulture, digte woude, woestyne, wingerde, legendariese strande en fantastiese wildtuine wat hulle in die bestek van 25 dae gesien het nie.

Die toer het op 3 Oktober in Dar es Salaam begin en hulle het onder meer deur Tanzanië, Malawië, Zambië, Botswana, Swaziland en Suid-Afrika getoer. Afhangende van hul skedule, reis hulle graag op agterpaaie om die landskap te waardeer. Hulle het Cradock vanaf Umngazi aan die Indiese Oseaan bereik en het Donderdagoggend na Oudtshoorn vertrek en sou daarna na Kampsbaai ry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article