“HOOP is ons laaste, beste vriend”.
Met die woorde van AG Visser op ’n kaartjie, is die vroue van Middelburg op 3 November tydens die eerste Cuppa for CANSA damestee in die NG Kerksaal begroet.
Onder die knap hande en planne van Engela Kruger, Linnet Marais, Ronel Gouws, Sarie van Blerk, Ronel van der Walt en verskeie ander helpers, is die dames op ’n stylvolle wyse by helderkleurig gedekte tafels onthaal.
Gouws wat onlangs saam met haar man, ds. Ferdi, na Middelburg verhuis het om as predikant by die NG Kerk Middelburg Karoo tydelik af te los, het haar boodskap van hoop aan die dames oorgedra.
’n Houer Rice Crispies asook ’n kettie is as voorbeelde tydens haar toespraak gebruik.
Eers wanneer die rek van die kettie ver ge-noeg terug getrek word (met teëspoed), kry die rek genoeg krag om vorentoe te skiet.
Die alombekende oud-Middelburger, Johannie van der Ahee van Sanlam, het oor kankergesels waarna Marius de Vries van CANSA ook aan die woord was.
Danksy die uitstekende klanksisteem en bystand van Donald Smiles, was Noline Kommas se sangitems beslis ’n hoogtepunt.
Volgens Noline is dit nie haar stem wat mens hoendervleis gee nie. “Nee”, sê Noline. “Dis die Heilige Gees wat jou daardie gevoel gegee het”.
Verskeie kerse is deur kanker-oorwinnaars aangesteek, waarna kerse ook vir die verskillende soorte kankers aangesteek is. Gelukkige trekkings en die heerlikste eetgoed het ook tot die vrolikheid van die damestee bygedra.
Almal was dit eens dat hierdie funksie verseker ’n vaste jaarlikse afspraak op Middelburg se almanak moet word.




