SOMERSET-Oos is ’n pragtige dorp en welig groen, maar beeste en varke en soms ander vierpotiges het die dorp ingetrek en vreet alles wat voorkom.
En belastingbetalers is keelvol hiervoor.Sommige inwoners het al hul tuine met drade, selfs elektriese drade, afgesper in ’n poging om die “tuinvreters” buite te hou.
’n Ontstoke inwoner was so kwaad toe ’n bees weer by hom skade aanrig, dat hy die dier geskiet het om ’n duidelike boodskap aan die eienaar te stuur.
Hierdie netelige kwessies kom al ’n lang pad en ná maande se talle onsuksesvolle telefoonoproepe en onbeantwoorde e-posse na verskeie amptenare, het Madisi Planga, hoof van gemeenskapsake by die Blue Crane-munisipaliteit in Somerset-Oos, Mid-Karoo Express telefonies te woord gestaan.
Planga het genoem dat hy eers in November 2017 in dié amp aangestel is. Hy het beaam dat daar vir ’n skut begroot is en dat R250 000 hiervoor geoormerk was.
Gevra hoekom die “skut” drie jaar later net ’n karige steengebou in die veld oorkant die straat van die verkeersdepartement is, het hy gesê dat daar nie voldoende fondse beskikbaar is nie.
Hy het bygevoeg dat dit nog baie lank gaan duur voordat die skut met alles wat daarby hoort, in gebruik geneem sal kan word.
Volgens Planga het Somerset-Oos inderdaad ’n skutmeester, naamlik Nico Claassen.
Planga stel voor dat inwoners enige lastige diere by die verkeersdienste aanmeld. Inwoners kan oor naweke steeds rondloperdiere rapporteer, aangesien die telefoonlyn na BG Veiligheidsdienste deurgeskakel word.
Gevra hoekom die eienaars van die diere nie tot verantwoording geroep word nie, het hy geantwoord dat die diere nie gemerk is nie.
Planga sê hulle is tans besig om saam met landboudienste en ander belanghebbendes aan ’n program te werk om met die inenting van al die rondloperhonde in die dorp te begin.
As gevolg van die munisipale staking wat op 10 Oktober begin het, kon hulle egter nog nie met die program begin het nie.
Om rondloperdiere aan te meld, skakel die Blue Crane-munisipaliteit by 042 243 6400.



