MIDDELBURG-INWONERS was vandeesweek verheug en verlig om die nuwe kompakteertrok in die dorp op te merk.

Vullisverwydering was die afgelope maande ’n kopseer, met die vorige vullistrok en die ou trekker en sleepwa wat nie kon byhou om dienste te lewer nie.

Engela Kruger, voorsitter van die Middelburg Forum, het namens hul lede die Inxuba Yethemba-munisipaliteit geluk gewens met die aankoop van die nuwe trok.

“Ons vertrou dat dienste nou weer seepglad sal verloop, en bedank IYM vir hul toewyding daaraan om ons lieflike dorp skoon en netjies te hou. Dit is egter ook elke inwoner se verantwoordelikheid om standpunt in te neem teen onwettige vullisstorting, of dit nou ’n enkele papier of hope bourommel is.

“Ons moet ’n bewaringskultuur by ons kinders tuisbring, en hulle leer hoe belangrik dit is om om te sien na die omgewing waarin ons leef. Ons moet hulle leer om trots te wees op hul woonplek, en dat ’n skoon omgewing ’n veilige omgewing is vir mens en dier.”

Hou Mid-Karoo Express se dagboek dop vir die datum van die volgende opruiming- en verfraaiingsprojek wat aangepak sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article