: Coldstream se skaduryke tuin is van vooraf uitgelê – hier mag Wagter soet by jou voete lê en saamkuier.Foto: elsabé pienaar


DIE nuwe Coldstream-restaurant in Graaff-Reinet is van Maandag vandeesweek af amptelik oop.

Die restaurant is in Mei vanjaar aangekoop as ’n skenking van die Rupert-familiestigting aan die SA Toerismekollege om laasgenoemde in staat te stel om leerling- en internskappe aan sy graduante te bied.

Volgens André Killian, uitvoerende direkteur van die SA Toerismekollege, word Coldstream bestuur deur die Drostdy-hotel, maar beskik oor sy eie sjefs en restaurantpersoneel. Heelwat restourasiewerk is onderneem voordat die restaurant sy deure vir die publiek oopgemaak het.

“Die kombuis is in ’n oop kombuis verander, met heelwat nuwe kooktoerusting en ’n hout- pizza-oond. Dié nasionaal-erkende historiese gebou is binne en buite oorgeverf, en die tuin is heruitgelê. Die ou biljartkamer van die Graaff-Reinet-klub is as ’n groot eetsaal ingerig, en hermeubileer met antieke meubels afkomstig van Ernie Els se voormalige Big Easy Restaurant in Stellenbosch,” het Killian vertel.

Dat Coldstream se binnenshuise versiering, meubilering, toerusting, tuinuitleg en spyskaart getuig van ’n kennershand met uitsonderlike styl, is ooglopend. Dat diesélfde hand verstaan hoe om “stylvol” te maak pas met “gerieflik” en “gesinsvriendelik” sit nie in enigiemand se broek nie. Dan is dit seker nie verbasend dat dié hand behoort aan ’n vrou nie, en dít niemand anders nie as Gaynor Rupert, voorsitter van die SA Toerismekollege.

As mens die boomhuis, sandput, afgly en hangstoele sien, is dit duidelik dat hierdie instelling sommer blitsig ’n gunsteling-kuierplek vir ouers met woelwaters gaan word. Jy mag selfs jou goed-gesosialiseerde hond saambring as jy beplan om in die tuin te sit, mits jy Wagter aan sy leiband hou.

Killian verduidelik die restaurant se naam: “Die naam Coldstream kom van die Coldstream Guard, wat ‘in Her Majesty Victoria’s Service’ hierdie gedeelte van die ou Kaapse kolonie teen die boere uit die Noorde tydens die Tweede Anglo-Boere-oorlog moes beveilig. Die Coldstream Guard is in die hedendaagse Graaff-Reinet-klubgebou geakkommodeer.”

Mens sou verwag dat as jy in styl wil eet, dit teen ’n prys sal kom, maar verrassend genoeg is die duurste item op die spyskaart ’n allemin-tige 500g T-been biefstuk teen R135.

Coldstream is by Kerkstraat 3 geleë, met ’n uitsig oor die pragtige NG Grootkerk. Besoek hulle Maandae tot Saterdae tussen 12:00 en 21:30, en Sondae tussen 10:30 en 18:30, maar onthou hulle is Dinsdae gesluit.

  • Kontak hulle by 087 285 4587 of hou Coldstream Restaurant dop op facebook. – ELSABÉ PIENAAR

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article