Samara se jagluiperdwelpies by hul ma, Chilli. Foto:Marnus ochse


VRA maar vir enige Karoo-se-kind wáár Tandjiesberg lê, en hy sal jou toe-oë die pad úít Graaff-Reinet Jansenville toe beduie.

Net ánderkant dié berg, wat soos ’n reuse dinosauruskakebeen teen die blou lug af-ets, draai mens links af om op die R63 te bly. As jy die grondpad na Samara private wildreservaat vat, ry jy sommer gou deur ’n hoë, dubbele heksisteem wat jou laat verstaan: híér is wilde diere – grotes, gevaarlikes en kosbares!

Samara is in 1997 deur Sarah en Mark Tompkins begin, toe hulle 11 plase opgekoop het en die heinings en vee verwyder het.

Die grond is nagenoeg 10 jaar laat rus, en daarna is inheemse wildsoorte en plantegroei stelselmatig hervestig om dié area sy vroeëre Afrika-glorie te laat herleef, met groot troppe springbok en Kaapse bergkwagga. Sedertdien is elande, gemsbokke, buffels en olifante met groot omsigtigheid op Samara hervestig, asook die eerste jagluiperds in nagenoeg 125 jaar.

Groot opgewondenheid het in September geheers nadat spoorsnyer Rowan Benadie die jagluiperdwyfie Chilli met twee pasgebore welpies op Lentedag teen ’n berghang opgemerk het.

Later in dieselfde maand was Samara-personeel besorg daaroor dat die swaar sneeuval die welpies se welstand kon bedreig. Juis daarom was almal in ekstase toe Chilli op 9 Oktober haar welpies van die berghang afgebring het om met nie net twee nie, maar vyf klein gespikkelde spoedvraatjies te spog.

Samara is ’n luukse vyfster-lodge, en dalk nie bekostigbaar vir elke Jan Rap en sy maat nie. Tog word die reservaat se sukses intensief teruggeploeg in die gemeenskap. Benewens ’n permanente personeelkorps van byna 70, wat veel meer is as die getal werkers op die oorspronklike 11 plase, is daar ook ’n samewerkingsooreenkoms met die SA Toerismeskool op Graaff-Reinet.

Dié instelling se studente doen tydens hul opleidingsjaar praktiese ervaring op by Samara, waar gaste op die hande gedra word en met net die beste akkommodasie en etes bederf word.

Samara huisves ook studente van die toerismeskool se Tracker Academy, wat intensiewe opleiding ontvang in die fynere kunsies van spoorsny, en dié studente vind agterna met groot sukses plasing by soortgelyke wildreservate.

Met Mid-Karoo Express se besoek het die ervare, entoesiastiese veldgids, Gibson, ons op twee onvergeetlike veldritte deur die vier verskillende biome wat op Samara aangetref word, geneem, terwyl hy onderhoudend gesels het oor plant en dier.

Nie eens die wreed-snerpende koue kon iets wegneem van die asemrowende natuurskoon nie, maar Gibson word vir die oomblik jou beste vriend as hy by ’n uitkykpunt stilhou en ’n blikbeker stomende koffie mét ’n knertsie Amarula teen die koue aangee.

Terug by die lodge resussiteer ’n glasie sjerrie die bloedsomloop tot in jou tone. ’n Yslike kaggel knetter terwyl mens jou moet inhou om nie ongeskik te begin weglê aan die cuisine-aandete nie. En in die kamer wag ’n vuurwarm skuimbad, klaar ingetap.

Dis miskien dié innemende anomalie wat mens die meeste tref op Samara: alles is superluuks, behalwe die oorheersende atmosfeer wat huislik fluister: “Ek het ’n plaas in Afrika…”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article