AS jy wil hardloop of fietsry, of dalk net gaan toutrek in ’n modderbad, dan het jy nog net twee weke oor om fiks te word en in te skryf.
Desember se Pekan-wedlope en fietsritte begin vanjaar op 14 Desember weer op die pragtige Sanctuary-plaas net buite Cradock.
Die naweek se verrigtinge begin met ’n 5km aandhardloop of 15km aandbergfietsrit.
Op Saterdag, 15 Desember, sal atlete vroeg wegspring op ’n veldpad oor 25km, 15km of 5km, terwyl die bergfietsryers togte van 15km, 35km, of 65km deur driffies en oor bruggies moet aandurf. Daar is ook ’n wedloop vir die jongspan.
As al hierdie inspanning agter die rug is, kan almal in die modder toutrek, foefiegly of op bande in die rivier ontspan. Die dag se verrigtinge word met ’n potjiekos-kompetisie afgesluit.
Al sien jy nie kans om aan al die fisiese inspanning deel te neem nie, is dit nog steeds die moeite werd om op Sanctuary in die pragtige blomtuin te ontspan of in die pekanboorde te stap.
Sondag se hinderniswedrenne behoort groot pret te verskaf.
Individuele inskrywings, asook naweekpakkette is beskikbaar.
Vir verdere inligting, skakel Wessel by 082 821 3254 of besoek die webwerwe www.facebook.com/PecanTrails/ of http://thepecantrails.wixsite.com/mysite.




