HOFMEYR Helpende Hand, in samewerking met Hofmeyr Hugs of Hope, het die afgelope Sondag die hoogtepunt van hul werksaamhede oor die afgelope jaar beleef, toe Moja du Plessis se Kersfeesdroom bewaarheid is.
Marlene Basson, bemarker by die Oos-Kaaptak van Solidariteit Helpende Hand in Port Elizabeth, het ’n versoek aan Hofmeyr-tak ge-stuur waarin daar Kersfeesdrome aangevra kon word. Die bestuur van Hofmeyr Hugs of Hope, waarby Helpende Hand geïnkorporeer is, het dadelik verskeie moontlike kandidate identifiseer, maar Moja du Plessis se aansoek was eindelik suksesvol en binne ’n paar dae is sy Kersfeesdroom – sy eie afleweringsfiets – verwesenlik.
Die motivering vir sy Kersfeesdroom lui so:
“Hiermee nomineer Hofmeyr Hugs of Hope en Hofmeyr Helpende Hand ’n pragtige jong man as kandidaat vir die Kersfeesdroom. Ons kandidaat is ’n man wat elke week van sy tuiste, drie straatblokke ver, in alle weersomstandighede stap om te kom diens doen by Hofmeyr Hugs of Hope en Helpende Hand. Hy tree op as sleuteldraer en as afleweraar. Hy is ’n geregistreerde lid van Helpende Hand en betaal elke maand pligsgetrou sy R50-lidmaatskap. Hy verdien ’n skrale vergoeding vir die baie belangrike werk wat hy doen, maar dit verhoed nie dat hy altyd hope-loos te vroeg met ’n stralende glimlag opdaag vir werk nie.
“Geen taak is vir hom te groot nie, en etenstye is die lekkerste. Hy gaan lewer gereeld pakkies af, al raak hy soms heeltemal verward as ons hom na te veel plekke op een slag stuur, en hy ken elkeen in die gemeenskap wat ’n bord kos moet ontvang. Hy sal selfs weer ’n rondte stap om die borde te gaan haal.
“Hy het ook ’n ouer broer en as hy ’n ekstra meevallertjie kry deur die maand by Hugs sal hy daardie geldjie oorkant die straat by Cobus en Bernice Claassen gaan spandeer om vir sy broer tuis ’n pakkie koekies te vat. Die gesin is redelik huisgebonde, en ons kom agter dat hy blom vandat hy by Hugs betrokke geraak het, maar ongeag sy omstandighede daag hy elke week op met sy glimlag, en in sy uniform om sy ure se diens te doen.
“Hy het twee groot begeertes. Die een is om ’n baie mooi meisie te hê, maar ongelukkig het Helpende Hand nie so iets beskikbaar nie. Die ander droom van ons kandidaat, is om ’n afleweringsfiets te hê – hy spaar elke sent wat hy aan die einde van elke maand kry, om hierdie droom eendag te laat realiseer.
“Hy woon elke Sondag die ere- diens by, en hy is altyd besonder deftig uitgevat. Die bestuur kan geen negatiewe kritiek op hom lewer nie en sal selfs sover gaan as om te sê dat sonder Moja sal Hofmeyr Hugs of Hope nie dieselfde wees nie.
Moja het die afgelope Sondag met groot opgewondenheid sy geskenk ontvang, en sal eersdaags met sy nuwe fiets kan begin aflewerings doen.


