MIDDELBURG se vier klinieke (KwaNonzame Old en New, Midros en die dorpskliniek) het die afgelope Vrydag ’n saamtrek in Rosmead gehou ter viering van Wêreldvigsdag wat amptelik op 1 Desember gehuldig word.
Vanjaar se tema was “Bekendmaking”. Inwoners van Midros, Kwa-Nonzame en Middelburg is per bussie aangery na die Rosmead-saal, en suster Eugenia de Beer het die gehoor ingelig oor die doel van die dag.
“Dit is belangrik om te weet dat korrekte gebruik van anti-retrovirale medikasie die vermenigvuldiging van die HIV-virus kan onderdruk. Dit kan nie die virus doodmaak nie, maar as die medikasie getrou gebruik word, kan jy ’n normale lewe lei.”
De Beer het beklemtoon dat dit noodsaaklik is vir elke mens om sy HIV-status te ken deur ’n siftingstoets te laat doen. Dit is egter ook belangrik dat die gemeenskap ’n veilige ruimte moet skep waarbinne mense die vrymoedig -heid sal hê om hul HIV-positiewe status be-kend te maak.
Jong gumboot-dansers van Emmanuel Carehouse het die gehoor op die punte van hul stoele gehad met hul ritmiese vertoning, waarna pastoor Nico Luther van die AGS Lux Dei-gemeente ’n boodskap gelewer het oor die bekendmaking van HIV-status en die reaksie van die gemeenskap daarop.
“Ons moet die HIV-pandemie erken en nie onnadenkend voortleef nie – ons moet weet wat die oorsaak van die siekte is, en hoë morele waardes handhaaf. Maar wanneer iemand gediagnoseer word, het hulle ondersteuning nodig. Mense is bang vir verwerping, maar dis nie ons rol om mense te veroordeel nie.
“Die HIV-positiewe persoon het die aanvaarding van vriende en familie broodnodig, en ons moet hulle help om steeds ’n normale lewe te kan lei en ’n waardevolle bydrae te kan lewer in die gesin en gemeenskap.”
Pastoor Luther het aangehaal uit 1 Petrus 3:8 en die gemeenskap aangemoedig om in deernis met die HIV-positiewe mens saam te leef.
Die gehoor is getrakteer op koeldrank en worsbroodjies, en siftingstoetse is aangebied. Verteenwoordigers van al die plaaslike kli- nieke, maatskaplike ontwikkeling, hospice, die Slagofferondersteuningsgroep, SAPS, Willem Stahl-hospitaal en die HIV-programbestuurder het die geleentheid bygewoon. Dank is uitgespreek teenoor plaaslike individue en besighede wat bydraes gemaak het om die dag moontlik te maak.



