’n FORT Beaufort inwoner in sy vroeë sestigs is die afgelope Sondag op ’n klag van moord in hegtenis geneem ná ’n voorval waarin ’n 44-jarige oorlede is.

Die voorval het die middag om 16:00 in die Newtown-woonbuurt, ten aanskoue van verskeie inwoners, gebeur.

Luidens ’n ooggetuie, wat verkies om anoniem te bly, het die beskuldigde in Marigoldstraat die oorledene gekonfronteer oor ’n televisiestel wat glo vroeër vanjaar by hom gesteel is.

’n Stryery het ontstaan waarna die be-skuldigde na sy woning gestap het.

Hy het etlike minute later met ’n windbuks teruggekeer en die oorledene voor die bors gegryp.

Hy het hierna glo ’n skoot op kort afstand na die oorledene se bors afgevuur.

Die oorledene het op die toneel inme- kaar gesak en daar is later vasgestel dat hy dood is. Die koeël uit die windbuks het vermoedelik sy hart deurboor. Die verdagte is op die toneel deur die polisie in hegtenis geneem.

Die polisie op Fort Beaufort het bevestig dat die 44-jarige Petrus van Wyk aan ’n skietwond beswyk het en dat ’n verdagte in sy vroeë sestigs in verband met die voorval aangekeer is. Hy sou die afgelope Dinsdag in die hof verskyn, maar polisiewoordvoerder kaptein Khaya Tonjeni kon teen druktyd nie bevestig of hy wel in die hof verskyn het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article