DIE Middelburg Forum is besig om die dorp se vere reg te skud vir die komende Kersseisoen.
Die Welkom-muur teen die Burgemeesterstuin is opgeknap en paaltjies wat deur trokke omgery is, word weer gesement. Die ingang na die dorpsbegraafplaas is geverf en die geskiedkundige Stoelmonument net buite die dorp op die Richmondpad is skoongemaak.
Waterslote in die dorp word skoongemaak en die Forum het versoek dat die publiek rommelstrooiers onverwyld moet rapporteer by Tegniese Dienste in die kliniekgebou langs Absa, sodat daar teen hulle opgetree kan word.
Engela Kruger, voorsitter van die Forum, het Forumlede en die Toerismever-eniging wat by bogenoemde projekte betrokke was, bedank.
“Ons nooi graag al ons inwoners om betrokke te raak, al is dit net om op hul eie sypaadjies en voor hul besighede skoon te maak.”
Daar is egter nog vele projekte in die pyplyn, en inwoners wat die Forum wil help met die verfraaiing en skoonmaakprojekte kan Engela by 049 842 3935 skakel.


