’n LEESGERIEF wat in ’n stadium ’n plattelandse gemeenskap se trots was, het die afgelope dekade in ’n spreekwoordelike seer oog ontaard.

Baie min mense besoek deesdae die biblioteek in die Newtown-woonbuurt op Fort Beaufort omdat daar net té veel dinge is wat hulle afskrik.

Dié biblioteek is bykans 40 jaar gelede vir die eerste keer in gebruik geneem. Die gemeenskap het dit destyds as ’n groot mylpaal in hul woonbuurt se geskiedenis beskou. Vandag sing hulle egter ’n heel ander deuntjie.

MetMid-Karoo Express se onlangse besoek aan die perseel, het rommel die ganse terrein vol gelê en het beeste, varke en bokke die afwesigheid van ’n heining ten volle benut.

Dié is jare gelede reeds weggedra en aan skroothandelaars verkoop. Die reuk van uriene en ontlasting het nog in die lug gehang en die stoep was besaai met leë en gebreekte drankbottels.

Binne die gebou was slegs ’n enkele kranige leser besig om in die rakke na ’n boek te soek. Luidens die 56-jarige Sharon Pieters wat reeds 38 jaar lank bibliotekaresse in Newtown is, het sy weens haar werksomstandighede heeltemal belangstelling in haar beroep verloor.

“Hierdie biblioteek was my trots, maar nou maak dit my siek. Die plek is die afgelope 20 jaar in dié toestand,” sê sy terwyl sy na die gate in die plafon asook die stukkende deure en vensters wys.

Volgens Pieters was foto’s al geneem en aan die owerhede gestuur, maar kom daar net niks terugvoering nie.

“As dit reën is ons onder water. Dis net deur die genade van Bo dat ons nog nie tering opgedoen het nie,” het Pieters gesê.

Volgens Pieters lyk die biblioteek perseel oor naweke meer na ’n taverne as ’n leesgerief.

Op die stoep word gedrink en selfs dwelms gerook en groot, sowel as klein kinders breek snags by die gebou in.

Die meeste diefwering is heeltemal los en baie min van die vensters se ruite is nog heel. Rekenaars en elektriese ware is weggedra en deure wat tydens inbrake gebreek is, is nog nooit herstel nie.

“Ons werk in die donker en is selfs bang om die ligte aan te skakel omdat meeste van die bedrading in die water hang,” het Pieters gesê.

Pieters het aan Mid-Karoo Express gewys waar ’n spinnekop haar aan haar been gebyt het omdat insekte vrye toegang tot die biblioteek het. Selfs die telefoon is die afgelope tien jaar reeds buite werking.

Luidens Pieters skroom dwelmverslaafdes ook nie om ’n vuur op die perseel se stoep te maak nie en trek vele skoolkinders soggens daar ’n dampie voordat hulle skooltoe gaan.

“Daar word snags hierbinne geslaap en soggens moet ons die gemors opruim,” het Pieters bygevoeg.

Mid-Karoo Express het weens klagte oor kinders se leesvaardigheid in skole, die plaaslike raadslid, Elten Bantam, oor die biblioteek krisis gepols.

Luidens Bantam dra hy kennis van die biblioteek sowel as die gemeenskapsaal se toestand van agteruitgang en verval. “Dis só jammer dat ons eie jeug ons geriewe so afbreek, maar dis ’n werklikheid wat mens nie kan wegwens nie,” het Bantam gesê.

Luidens Bantam het die biblioteek die afgelope paar jaar onder die Departement van Sport en Ontspanning geval, maar is daar nou sprake dat dit weer deur die munisipaliteit bestuur gaan word.

“Ek het reeds hierdie Donderdag ’n vergadering met die munisipale bestuurder en het die saak van die biblioteek hoog op my agenda geplaas,” het Bantam gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article