Wilna de Klerk. Foto: VerskafPhoto:


DIS volgende week Kersfees en terwyl ons almal Kerspartytjies, geskenke en ’n paar dae by die see beplan, is dit ook ’n goeie tyd om aan die ou te dink wat dalk in ’n asblik moet krap sodat hy ’n flentertjie korsie kan kry om as Krismismaal te geniet.

Maar Kersfees is ’n tyd vir gesinne om te ontmoet, mekaar te waardeer en die tydjies saam te koester. Elkeen wie se familie vir hom omgee, moet dit waardeer, want dis nie ’n gegewe in alle gesinne nie. Party ouers het kinders wat ver in die buiteland woon waar hulle op hulle eie ’n wit Kersfees herdenk.

Dit was eintlik die Romeinse kerk wat in die sewentiende eeu besluit het dat Kersfees op 25 Desember moet val. Toe was Kersfees glo nog nie so ’n belangrike fees nie en is Paasfees, Pinkster en Driekoningsfees (ter ere van die Drie Wyse Manne) wat vroeg in Januarie gevier word, as meer belangrik geag.

Die storie oor hoe Krismisbome in die prentjie gekom het, is vir my baie mooi. Daar word vertel dat die bekende Martin Luther in die sestiende eeu in Duitsland skepper van die Kersboom was. Hy het glo laat een aand huistoe gestap en terwyl hy besig was om die volgende Sondag se preek te beplan, het hy oorweldig geraak deur die helder sterre wat deur die immergroen bome geskyn het. Hy wou die wonderlike gesig prakties vir sy gesin illustreer en het toe ’n boom in die voorkamer van hul huis opgesit en die takke met brandende kerse versier.

Die eerste Vader Krismis (of Sinterklaas of Kersvader) was glo ’n ryk Hollander wat baie skaam was. Hy wou graag geld vir die armes gee, maar was te skaam om dit self af te lewer. Hy klim toe maar op ’n huis se dak en gooi ’n beursie met geld in, in die skoorsteen af. Dit het toevallig in ’n kous, wat ’n meisie van die huis voor die kaggel gehang het om droog te word, geval en die legende is gebore.

As kind was ek so bevoorreg dat ek ’n kussingsloop op Oukersaand kon ophang. Ek wens ek kan vir een oomblik weer teruggaan om daardie opgewondenheid en afwagting te herleef. In my kinders se tyd het ons ’n gemeenskaplike Kersboom in ’n saal waar almal kon teenwoordig wees, gehad. Elke ouer het haar kinders se geskenke in die saal ingesmokkel en een van die gesiene boere in die gemeenskap het, uitgedos in ’n rooi pak en met ’n lang wit baard, op ’n trekker aangery gekom om die geskenke uit te deel.

My gebed is: Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer. Skenk ons ’n helder somer Kersfees in hierdie land o Heer – Koos du Plessis uit die Liedboek van die Kerk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article