ASOF beurtkrag nie genoeg is nie, het die ganse Fort Beaufort Dinsdag en Woensdag sonder water gesit, sonder enige vooraf waarskuwing.
Teen Mid-Karoo Express se druktyd gistermiddag (Woensdag) was die watertoevoer nog nie herstel nie.
Inwoners was Dinsdag reeds warm onder die kraag en moes deur die dag skarrel om water vir die mees basiese dinge in die hande te kry.
Die dorp ondervind reeds ’n gebottelde water stormloop.
Terwyl die plaaslike munisipaliteit soos die graf swyg, het dit gister voorgekom asof die dorp se watervoorraad krisisafmetings begin aanneem.
Dit het bitter lanklaas op dié dorp gereën. Waterpype wat die afgelope tyd gebars het, het nog meer druk op die dorp se watervoorraad geplaas.
’n Dam wat water aan die Magaleni-woonbuurt voorsien, was Dinsdag só leeg dat inwoners visse met emmers en baddens uit die modderpoele weggedra het.


