DIT was vandag sewentien dae gelede nuwejaar toe daar, volgens statistiek 45% van Suid Afrika se mense nuwejaarsvoornemens gemaak het. Volgens dieselfde statistiek sal net 8% van hulle by hierdie voornemens hou.

Die algemeenste voornemens wat jaarliks gemaak word, is gewoonlik om gewig te verloor en op te hou rook. Sielkundiges waarsku egter dat nuwejaarsvoornemens nie te moeilik moet wees nie, want hoe meer onbereikbaar, hoe moeiliker is dit om dit na te kom.

Ek het natuurlik self ’n paar 2018 nuwejaarsvoornemens wat nog uitstaande is. Gelukkig het ek die wyse raad van ’n wysheer gevolg en niemand vertel wat ek onderneem het nie. Nou is daar niemand wat kan vra; “O, ek dog jy’t op nuwejaar gesê jy gaan dit of dat nooit weer in 2018 doen nie.”

Ek het dié voornemens maar, soos slegte skuld, oorgedra na 2019 en nou kan ek wéér probeer.

’n Mens moet natuurlik flink dink voor jy nuwejaarsvoornemens maak. Soos die jong meisie waarvan ek nou die dag gehoor het : Sy vertel dat sy in ‘n tydskrif gelees het hoe geweldig sleg sterk drank en rook vir ’n mens is. Sy het onmiddellik onderneem om nooit weer ’n tydskrif te lees nie.

Ek sou sê ’n voorneme om gewig te verloor, gesonder te eet, geld te spaar of ’n stokperdjie te beoefen kan almal van ons goed doen. ’n Ander sê mens moet liewer nie al jou nuwejaarsvoornemens op een dag begin nie. Raak eers aan een gewoond en dan lyf jy na twee weke, of so, nog een in.

Die internet het natuurlik lyste van voornemens vir tieners, alleenlopers, onderwysers, paartjies en nog meer.

As jy nie genoeg goed op jou gewete het wat moet regkom nie, vra vir Mnr Google – hy sal jou sekerlik met ’n idee of twee kan help.

Ongelooflik – maar waar – is die feit dat nuwejaarsvoornemens al 4 000 jaar gelede deur die Babiloniërs gemaak is. Al hierdie mense het op nuwe jaar onderneem om al hul skuld te be-taal en alles wat hulle deur die jaar ge-leen het, terug te besorg.

In Spanje was dit die gewoonte om op die aand van 31 Desember, soveel druiwekorrrels as moontlik in jou mond te stop. Indien jy daarin sou slaag om twaalf korrels in te kry, sou jy vir die volle twaalf maande geluk en wel-vaart ondervind.

Vir my was die mooiste nuwejaarsvoornemens wat ek raak gelees het, dié van Middeleeuse Ridders wat elke jaar die “Peacock Vow” (les voeux du paon) afgelê het om hul ridderskap en hoflikheid vir die nuwe jaar te bevestig.

Voorspoed met jou nuwejaars-wense. Maar, as jy soos die ma van drie onderneem het om voor die einde van die nuwe jaar in jou matriekafskeidsrok in te pas – moenie worry nie. Niemand anders kon dit ook nog regkry nie.

Onthou om 2019 te skryf want die ou jaar en sy dinge is vir ewig verby.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article