NUWEJAARVOORNEMENS is wonderlike goed. Dis ’n teken van ambisie en toekomsgerigtheid, en die wil om te verander en te verbeter. Dit is vaste besluite, ’n teken van imbors, en verg ysere selfdissipline.
Nuwejaarsvoornemens verander mens se hele lewe. Maar net tot 3 Januarie. Teen dan het die nuwe jaar ook al sy kinderskoene ontgroei, jou “nuwe” vegetariese dieet voel oud, en jy ook.
3 Januarie behoort wêreldwyd ’n openbare vakansiedag te wees, want dis hoogs waarskynlik die mees onproduktiefste dag van die jaar.
Miljoene mense daag by die werk op met detokshoofpyne en verydelde hoop vanweë verbroke voornemens.
Sigaret- en koffieverkope skiet weer die hoogte in, en gimnasiums is weer leeg. Kortom, so edel as wat dit is, is nuwejaarsvoornemens meestal onhaalbare ideale uit die hel self. Kras, maar waar. Ek wás al daar, hét dit gedoen en die T-hemp gekoop.
Maar dis die probleem met sulke T-hemde. Almal kan sien as dit laasjaar se hempie is. Die dat ek lankal nie meer op 31 Desember van enige jaar allerhande wilde idees vir die nuwe jaar in my kop onthaal nie. Ek het die uitnemender weg ontdek. In plaas van reëls en wette (jy mag nie rook nie, koffie drink nie, sjokolade en vleis eet nie) maak ek “aanpassings”, en oortuig myself dat aanpassing ’n teken van ’n intelligente, evolerende wese is: “adapt or die”, het Charles Darwin gesê (al reken ek hy het ’n ooraktiewe verbeelding gehad).
Die aanpassings wat ek vir 2019 gaan maak, is min, eenvoudig en haalbaar, en in plaas van reëls, eerder klein inspirerende leusetjies waarvolgens ek my dae wil rig.
Leuse 1: Kai Zen. Dié een het ek in Japan gaan haal, waar die mense nogal oud word, so hulle moet seker iets beet hê. Kai Zen is ’n benadering van konstante klein verbeterinkies, wat uiteindelik groot resultate lewer. Kai Zen is om ’n groot taak dag vir dag aan te pak, 1% op ’n slag. Elke dag gee jy wat jy kan, en al voel jy dit was net 1%, was dit dáárdie dag se 100%. Dit bring so ’n bietjie balans tussen strewe en rus, waarsonder mens ook maar nie die pas kan volhou nie. Die moderne wêreld oortuig ons heeltyd dat ons tekort skiet. Die Japanese sê: jy is genoeg, en jy dóén genoeg. En ás jy Kai Zen in Afrikaans wil vertaal, is dit: Raai- raai, hoe eet mens ’n olifant? Antwoord: happie vir happie!
Leuse 2: Die Engelse woord “kindness” word in Afrikaans vertaal met “goedgesindheid”. Dis eintlik ’n mooi beskrywende woord: om ’n goeie ge-sindheid te hê teenoor iemand. Dít is my woord vir 2019: goedgesindheid.
Leuse 3 kom uit Italië, en dis die woord “Basta!”: Genoeg! Vanjaar gaan ek wegstap van toksiese mense, sir-kusse waarvan die apies nie myne is nie, en die euwel van alle euwels: whatsapp-groepe waarvan mense nie whatsapp-etiket verstaan nie. Basta met hulle almal.
Mag 2019 vir jou ook Kai Zen en goedgesind wees. En basta met die res.
