Battiss se seun, Giles, oorhandig die Fookvlag aan die voorsitter van die Walter Battiss-stigting, Alan Hobson. FOTO: DEONETTE HAGGARD


DIE Walter Battiss-kunsmuseum in Pauletstraat, Somerset-Oos kry ’n nuwe en verfrissende asem in 2019.

Die eerste geleentheid wat aangebied is, was op Sondag, 6 Januarie toe die nuut ge-stigde Battiss-stigting die dag wat die 113de verjaardag van die welbekende doyen van kuns in Suid-Afrika, Walter Battiss, sou wees, op feestelike wyse by die kunsmu- seum gevier het.

Walter Wahl Battiss, ’n gebore Somersetter wat in 1982 oorlede is, het in 1981 die Walter Battiss-kunsmuseum geopen met ’n skenking van meer as 60 kunswerke en ander memorabilia, kenmerkend van sy individuele leefstyl.

By Sondag se viering van die dag wat sy vader se 113de verjaardag sou gewees het, het sy seun, Giles, nog twee items wat aan sy vader behoort het, aan die kunsmuseum geskenk.

Die eerste is ’n pragtige, handversierde boksie deur Battiss senior, met die woorde in Fooktaal daarop geskrywe: “fiish niif and fook of fook island”.

Die tweede item is die oorspronklike Fook-eiland vlag wat op ’n seremoniële wyse aan die voorsittter van die Walter Battiss-stigting, Alan Hobson, oorhandig is.

Batiss het by die opening van die kunsmuseum in 1981 gesê: “I give this to the people of Somerset East – all the people of Somerset East.”

Fookeiland? Battiss was ’n briljante kunstenaar wat die konseptuele kunsvorm op ’n speelse manier vertolk het, naamlik om ’n denkbeeldige eiland te ontwikkel. Die eiland bestaan egter net in jou kop en jy gaan daarheen wanneer jy wil wegkom van die neerdrukkende dinge om jou.

Battiss was welbekend as “King Ferd the Third of Fook Island” en wanneer hy tuis was, het hy die Fookvlag in sy tuin laat wapper. Daar is steeds baie Fookaanhangers regoor Suid-Afrika en natuurlik op Somerset-Oos ook.

Ros Turner, kuratrise, sê dat met die Battiss-stigting het daar ’n nuwe era vir die kunsmuseum aangebreek en dat Battiss dié nalatenskap met groot vertroue aan alle Somersetters geskenk het.

Sy sê alle Somersetters kan opreg trots wees om so ’n blink juweel van onskatbare waarde in hul midde te hê en sy nooi almal uit om die kunsmuseum te besoek en só te verseker dat dit vir die nageslagte bewaar sal word.

Openingstye van die museum:

Maandae tot Vrydae van 08:30 tot 13:00 en 14:00 tot 17:00.

Vir toegang oor naweke kan ’n afspraak met Turner voor die tyd gemaak word.

Die toegangsgeld is R10 per persoon. Skakel 042 243 1448 of 073 698 6539 vir inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article